Maties-2

AfriForum Jeug nader hooggeregshof ná US studente uit VSR-verkiesing skors

AfriForum Jeug bring môre ’n dringende aansoek in die Kaapstadse hooggeregshof om die Universiteit van Stellenbosch (US) te dwing om agt kandidate vir die verteenwoordigende studenteraad (VSR) se kandidatuur te herstel.

Dit volg nadat die US dié kandidate op onbillike wyse en sonder geldige redes van die verkiesing uitgesluit het.

Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder, sê die US het dié besluit geneem sonder om die betrokke kandidate die geleentheid te bied om hul kant van die saak te stel.

“Die US-studentehof het verskeie kere teenstrydig hul bevoegdhede en magte opgetree. Alle pogings om interne remedies te volg, was onsuksesvol en is telkens deur die US belemmer.”

Mostert sê voorts dat die universiteit en studentehof met vooroordeel teenoor die studente opgetree het en deurgaans die vry, regverdige en billike verloop van die verkiesing in die wiele probeer ry het. Calumet Links, die hoofverkiesingsbeampte, het dié stelling beaam in ’n verslag wat by studentehof ingedien is.

Bernard Pieters, VSR-voorsitterskandidaat, sê ’n hofaansoek is reeds Maandag op die US beteken. Die universiteit moes teen Dinsdag laat aandui of hulle dié aansoek gaan teenstaan. Die instelling het vandag (Donderdag) opponering aangedui.

In die hofaansoek gaan AfriForum Jeug die hof versoek:

  • om die US te beveel om die agt kandidate se kandidatuur te herstel;
  • dat die verkiesing se stemproses binne 48 uur moet begin;
  • dat die studentehof verbied word om buite sy magte op te tree en by die verkiesingsproses in te meng; en
  • ’n verswarende kostebevel teen die US en die studentehof toe te staan.

“AfriForum Jeug kry die wind van voor omdat ’n klein groepie aktiviste wil verhoed dat ons tot die VSR verkies word. Hulle weet dat ons baie steun op die kampus geniet en dat dinge sal verander as ons die verkiesing sou wen,” sê Pieters.

Pieters sê voorts dat AfriForum Jeug dié gebeure as ’n geleentheid beskou om aan studente te bewys dat die jeugorganisasie ernstig is oor die regte van alle studente – selfs dié wat nie met hulle saamstem nie.

AfriForum Jeug is van mening dat die studentelewe by die US die afgelope jare ontwrig is deur ’n groep radikale individue wat die kampus probeer destabiliseer het en op regte aandring op ’n wyse wat ander studente se regte skend.

“Die US kort sterk studenteleiers om verandering teweeg te bring, en dit is presies wat ons aan studente bied. Pogings deur die US en radikale groepe om AfriForum Jeug af te skrik, sal egter nie slaag nie,” sê Pieters.