Maak universiteite oop, vat moeilikheidmakers vas

AfriForum Jeug het vandag ’n petisie – Universiteitsbesture, laat ons studente in vrede studeer! – van stapel gestuur nadat talle universiteite hul kampusse weens gewelddadige betogings oor studiefooie gesluit het.

Dié jeugorganisasie is ook sterk gekant teen die uitsprake van Gwede Mantashe, ANC-sekretarisgeneraal, dat hy al die universiteitskampusse vir ses maande sou sluit as hy die minister van hoër onderwys was.

“AfriForum Jeug is van mening dat geweld en ontwrigting op kampusse sal ophou wanneer moeilikheidmakers vasgetrek en vervolg word. Die organisasie verwelkom die skorsing van ’n EFF-studenteleier by die Universiteit van Pretoria (UP) en hoop dat daar in die vervolg ook teen ander studente opgetree sal word wat hulself aan openbare geweld skuldig maak,” sê Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder.

“Daar moet ’n voorbeeld gemaak word van elke persoon wat iemand intimideer, aanrand, beseer of eiendom beskadig. Polisie, kampusbestuur- en sekuriteit laat toe dat onskuldige studente slagoffers word omdat hulle versuim om teen moeilikheidmakers op te tree,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum Jeug doen ʼn beroep op studente om ook die petisie Laat ons studeer/Let us study te ondersteun.

“Dié petisie het ten doel om die regte van betalende studente wat werklik wil studeer, te beskerm en bevorder. Daar is geen rede dat alle studente gestraf moet word as gevolg van ’n radikale minderheidsgroep se optredes nie. Studente se reg om te studeer moet gerespekteer word,” sê Mostert.

Volg die skakel om AfriForum Jeug se petisie te ondersteun:

Universiteitsbesture, laat ons studente in vrede studeer: https://afriforumjeug.co.za/universiteitsbesture-laat-ons-studente-vrede-studeer/