5451407168480b43bcb864e1-995x1024-1

AfriForum Jeug lê klag teen NWU-visekanselier

AfriForum Jeug het gister ʼn formele klag gelê teen prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit, vir die aanhitsing van openbare geweld. Dit volg nadat Kgwadi Dinsdag by ’n openbare vergadering van #ReformPIK honderde studente aangemoedig het om te baklei.

Hy het aan studente gesê “I encourage you to fight” nadat die #ReformPIK-groep daarop aangedring het dat Afrikaans en die Totius-standbeeld op die Potchefstroom-kampus verwyder moet word.

“Kgwadi kan deur party mense nou selfs as ʼn geweldenaar beskou word. Deur studente aan te moedig om te baklei, dra hy by tot hy die polarisering van verskillende kultuurgroepe op die kampus. Sy politieke agenda veroorsaak rassespanning,” het Ian Cameron, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê.

ʼn Saak van aanhitsing van openbare geweld sal nou teen Kgwadi ondersoek word. Cameron het verduidelik dat Kgwadi se optrede teenstrydig is met sowel die Grondwet as die Strafproseswet, en meen dat Kgwadi besig is om rasse- en kultuurhaat aan te wakker sonder om aan die nagevolge van sy woorde te dink.