img_6931

AfriForum Jeug kondig studiebeurs wenner aan vir Tuks

AfriForum Jeug het Carmi Joubert as die Universiteit van Pretoria (UP) se wenner van dié organisasie se studiebeurs ter waarde van R20 000 aangekondig. Die sanggroep Adam het by die geleentheid opgetree en die beurs oorhandig.

Die organisasie het onlangs die eerste drie beurswenners by die universiteite van Potchefstroom, Stellenbosch en die Vrystaat aangekondig.

Die jeugorganisasie het vroeër vanjaar aangekondig dat vier Afrikaanssprekende studente, een by elk van dié universiteite, dié studiebeurs kan wen.

“Die beurs-en-studiefonds is gestig ten bate van Afrikaans, en studente wat in dié taal wil studeer. Dit vorm ook deel van AfriForum Jeug se Afrikaans sal bly-veldtog. Die fonds word onafhanklik deur Helpende Hand bestuur en nie die knie onder politieke druk buig nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder by UP.

Grobbelaar is van mening dat meer gedoen moet word om moedertaalonderrig op kampusse te bevorder, onder meer deur die toekenning van studiebeurse.

Alumni of skenkers wat tot AfriForum Jeug se studiefonds wil bydra, kan ’n e-pos aan Evalna Pieterse stuur by evalna@afriforum.co.za of die woord “Beurs” na 32687 SMS (R1).