AfriForum Jeug kla woordvoerder van Black First Land First van aanranding aan

AfriForum Jeug het vandag ʼn klag van aanranding by die Midrand Polisiestasie gelê teen Lindsay Maasdorp, die woordvoerder van die Black First Land First-beweging. Dít volg nadat Maasdorp vandag lede van AfriForum Jeug by die Nasionale Onderwyskrisisforum in Midrand, wat deur verskeie bewegings bygewoon is, aangerand het.

Studente wat aanvoer dat hulle deel is van die #Feesmustfall-strukture het ook aan AfriForum Jeug gesê dat hulle nie ʼn spreekbeurt by die geleentheid mag kry nie.

“Ek het na die podium gestap vir my aangewysde spreekbeurt toe dié studente voor my kom staan en sê dat ek nie mag praat nie, omdat ek wit is,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se koördineerder vir Tukkies.

“Hulle het ook in ons gesigte die kreet ‘one settler, one bullet’ geskree en die ‘kill the Boer’-liedjie gesing. Daar het ʼn groot bakleiery uitgebreek – mense het mekaar met stoele gegooi en lede van AfriForum Jeug is deur Maasdorp aangerand,” sê Renier Goosen, voorsitter van die Tukkies-tak.

“Ons het gevrees vir ons lewens en dit wys dat hulle geen agting het vir ons bydraes nie en rassisties teenoor wit mense is. Ons hoop dat die polisie die saak sal opvolg,” sluit Grobbelaar af.