AfriForum Jeug help Reitz-kamerwonings om regsmening oor sluiting in te win

AfriForum Jeug het ʼn bedrag van R10 000 beskikbaar gestel om ʼn regsmening in te win namens die huidige inwoners van die Reitz-kamerwonings – wat nie betrokke by die maak van die Reitz-video was nie – maar nou met die Universiteit van die Vrystaat (UVS) se besluit om dié koshuis te sluit, aan kollektiewe straf onderwerp word. AfriForum Jeug glo daar is sterk regsgronde om die sluiting van die Reitz-kamerwonings in die hof te betwis, aangesien dit onbillik en onregmatig is om kollektiewe straf toe te dien aan studente wat hulle aan geen oortreding skuldig gemaak het nie.

Ernst Roets, uitvoerende hoof van AfriForum Jeug, het daarop gewys dat indien die Reitz-kamerwonings gesluit moet word weens die optrede van 4 gewese inwoners, daar byvoorbeeld ʼn veel sterker argument gevoer kan word dat die hele parlement moet sluit weens die betrokkenheid van sommige parlementslede by die Travelgate-skandaal; of selfs aangedring kan word dat die Alexandra-township moet sluit weens die feit dat sommige inwoners hulle aan xenofobie skuldig gemaak het. Die vergesogtheid van hierdie voorbeelde bevestig volgens Roets hoe vergesog die besluit is om Reitz-kamerwonings te sluit.

Volgens Roets gaan AfriForum Jeug ook pogings aanwend om nog geld vir ʼn regsaksie in te samel om Reitz-kamerwonings oop te hou. Sy organisasie het reeds ʼn fasiliteit geskep waardeur die publiek outomaties R10 vir hierdie doel kan skenk deur die woord Reitz na 38655 te SMS. Enige gelde wat na afloop van die regsgeding mag oorbly, sal vir liefdadigheid geskenk word.

Roets het daarop gewys dat daar genoegsame prosesse bestaan waardeur die UVS teen spesifieke studente wat hulle aan wangedrag skuldig maak, kan optree en is kollektiewe straf onnodig. “Dit sou net so onbillik wees vir die UVS om oorwegend swart koshuise te sluit omdat van hulle inwoners onder die betogers tel wat onlangs rassistiese dreigemente teenoor wit studente by die UVS gemaak het – daarom is die sluiting van Reitz-kamerwonings ook onbillik,” het Roets bygevoeg. In stede van kollektiewe straf, behoort die UVS eerder nou ook teen die spesifieke studente op te tree wat tydens die betoging geskree het dat alle wit “bitches” verkrag gaan word, dat “alle wit mense” van die kampus moet af, dat hulle koshuise met petrolbomme gegooi gaan word en dat “alle wit boere” doodgemaak gaan word.

Volgens Roets het sy organisasie die Reitz-video reeds onvoorwaardelik veroordeel. “Die video kan egter nooit as regverdiging vir ʼn heksejag teen onskuldige studente dien nie,” het hy bygevoeg.