20Mei2-e1415087583261

AfriForum Jeug gedenk slagoffers van Kerkstraat-bomaanval

AfriForum Jeug het vandag ‘n kranslegging en minuut stilte gehou by Vryheidspark in Pretoria om die 19 oorledenes en meer as 200 beseerdes, wat in die 1983-ANC-terreuraanval in die middestad van Pretoria gedood en beseer is, te gedenk.

19 lede van AfriForum Jeug en AfriForum het kranse gelê vir elkeen van die oorledenes. Tydens die kranslegging is ‘n versoek aan mnr. Khorommbi Matibe, die hoof van openbare deelname by Vryheidspark oorhandig waarin AfriForum Jeug versoek dat die name van die 19 oorledenes op die “Muur van Name” aangebring moet word.

“Hierdie wrede aanval, wat in spitstyd in een van die besigste dele van die stad plaasgevind het, is deel van Suid-Afrika se geskiedenis. Die slagoffers was Suid-Afrikaners van alle rasse. Deesdae se eensydige oorvertelling van die geskiedenis deur die ANC, waar ANC-leiers as onbevlekte helde voorgestel word, is ʼn verdraaiing van die feite. Ons kan nie net herdenk wat die ANC wil voorhou en die res van die verlede geriefshalwe vergeet nie,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug beplan om ʼn komitee op die been te bring wat spesifiek sal verseker dat hierdie oorledenes onthou en vereer word. Die jeugorganisasie het dit beklemtoon dat hierdie besluit nie ʼn politieke gebaar is nie, maar ʼn poging van die jeug om Suid-Afrika se geskiedenis gebalanseerd oor te lewer.