Jonathan-Jansen

AfriForum Jeug gaan voort met dagvaarding teen Kovsies-rektor

AfriForum Jeug het sy regspan opdrag gegee om voort te gaan met die opstel en uitreiking van ’n dagvaarding teen die rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), prof. Jonathan Jansen én die UV.

Die jeugorganisasie staan twee oudstudente, Cobus Muller en Charl Blom by in ʼn saak van laster en prosedurele onbillikheid. Die oudstudente eis R1 miljoen van prof. Jansen en die UV.

“Ons het Vrydag ’n brief van die UV en prof. Jansen se prokureurs ontvang waarin hulle aanspreeklikheid ontken. Ons gaan dus voort met die dagvaarding,” sê Henk Maree nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Muller en Blom eis skadevergoeding nadat hulle verlede jaar van poging tot moord aangekla, maar deur die hof asook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie onskuldig bevind is. Hulle is sonder prosedure of verhoor van die kampus verban en geen geleentheid gegun om hul kant van die saak te stel nie.