Maties-2

AfriForum Jeug en US gaan vir derde keer in Kaapse hooggeregshof verskyn

AfriForum Jeug en die Universiteit van Stellenbosch (US) het vandag buite die Kaapse hooggeregshof ooreengekom om mekaar weer op 19 Mei 2016 in die hof te sien oor die taalstryd waarby die partye betrokke is.

Dit kom nadat  AfriForum Jeug hom vir die derde keer tot dié hooggeregshof gewend het oor die onregmatige hersieningsproses van die universiteit se taalbeleid. Die US het ʼn vroeëre ooreenkoms met AfriForum Jeug verbreek deur met die hersieningsproses van die taalbeleid voort te gaan sonder om die proses met die organisasie te bespreek.

“Die US is verlede maand in die Kaapse hooggeregshof beveel om sy eie bestaande taalbeleid toe te pas, waarvolgens Afrikaans en Engels gelyke status geniet, met die gelyktydige ontwikkeling van isiXhosa as akademiese taal. Afrikaanssprekende studente aan dié universiteit het ingeskryf vir Afrikaanse onderrig in 268 vakke, maar het egter sedert die begin van die jaar slegs klasse in Engels ontvang,” het Bernard Pieters, AfriForum Jeug se Maties-kampuskoördineerder, gesê.

“Die bestaande taalbeleid word beskou as ʼn taalbeleid van wêreldgehalte. Hoewel ons die US se reg erken om sy taalbeleid te hersien, dring ons daarop aan dat die regte prosedure gevolg moet word.”