IMG-20140515-WA0017

AfriForum Jeug en Kovsies-studente verhef hul stem oor studentebelange

AfriForum Jeug Kovsies en studente het ’n optog gehou ter bewusmaking van gesonde koshuistradisies, studentelewe en koshuise by die Universiteit van die Vrystaat. Tydens die optog is ʼn petisie met 1600 handtekeninge en ’n dekbrief aan mnr. Rudi Buys, die studentedekaan oorhandig 

“Studente het gevoel dat hul stem op kampus nie gehoor word nie. Ons versoek dat studente vrylik moet kan sê wanneer hulle probleme het en dat hulle geken moet word in besluite wat hulle en hul koshuise raak,” sê Willie de Waal, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies.

Die petisie is twee maande gelede deur dié tak van AfriForum Jeug begin om genoegsame ondersteuning van studente te kry. Die studente het tydens die optog duidelik gewys hoe moedeloos hulle voel en dat hulle die saak ter sterkste ondersteun.

“Nadat dit deur verskeie mediabronne en studenteklagtes vir ons duidelik geword het dat gesonde studentetradisies, studentelewe en die voortbestaan van sekere koshuise in die gedrang is, het AfriForum Jeug die veldtog van stapel gestuur. Dit is noodsaaklik dat studente nou moet opstaan vir dit wat vir hulle saak maak,” het Henk Maree, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê.

Kovsie studente-optog
Kovsies studente-optog