AfriForum Jeug en CVO-skool loods Operasie #Skoonveld in Vryburg

AfriForum Jeug se Vryburg-tak het op 8 Julie 2019 die plaaslike CVO-skool se matriekleerders met hul gemeenskapsdiens in die dorp gehelp deur rommel op te tel. Christelike Lewensoriëntering, ook bekend as CLO, is ’n verpligte vak vir leerders van CVO-skole en vereis dat leerders drie ure se gemeenskapsdiens tydens ’n skooldag voltooi.

As aanmoediging is ’n kompetisie tussen drie spanne geloods met ’n AfriForum Jeug-hemp op die spel. Die rommel was spoedig skoonveld – die leerders het uiteindelik 61 vullissakke rommel opgetel vanaf Ganeysa se ingang tot in Vryburg. Die leerders was besonder trots op hul handewerk.

Die AfriForum Jeug-tak in Vryburg daag ander skole uit om ook ’n verskil in hul onderskeie dorpe te maak deur aan gemeenskapsprojekte onder die hutsmerk #Skoonveld deel te neem. Die Vryburg-gemeenskap se betrokkenheid dra daartoe by om dié dorp op te hef.