AfriForum Jeug eis stappe teen arrogante ISR-lede

AfriForum Jeug het die raad van die Noordwes-Universiteit én prof. Dan Kgwadi, visekanselier, versoek om teen lede van die Institusionele Studenteraad (ISR) op te tree.

Dít kom nadat lede van die ISR gister by ʼn mediakonferensie aangevoer het dat Monica van Schalkwyk, ondervoorsitter van die ISR, steeds geskors is en dat hulle hul nie sal steur aan prof. Kgwadi óf die raad se besluit om haar skorsing op te hef nie.

“Ons kan die arrogansie van die ISR-lede bykans nie glo nie. Ons het ʼn brief aan die NWU gestuur en optrede teen die studente geëis. Die studente tree buite hulle magte op,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug. 

“Die mediakonferensie was ʼn politieke foefie. Die studente wil politiek by studentelewe en spesifiek die Potchefstroomkampus van die NWU betrek. Dit kom voor asof daar ʼn vendetta teen die kampus en enige organisasie is wat die kampus probeer bystaan.” 

Dit het in die tussentyd onder die jeugorganisasie se aandag gekom dat die ontbinding van die ISR ernstig oorweeg word. Dié besluit sal egter teweegbring dat daar geen studentestem op die raad sal wees nie, en AfriForum Jeug voel sterk dat studente se stemme gehoor moet word.