main-building12bf8fe65b146fc79f4fff0400aa9400

AfriForum Jeug eis dringende aksieplan van Kovsies-bestuur oor betogings

AfriForum Jeug het vandag ’n dringende versoek aan die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus gestuur waarin hulle ’n aksieplan eis oor hoe studente se grondwetlike regte beskerm gaan word. Dít volg ná betogers van die #FeesMustFall-beweging vandag klasse en eksamens op dié kampus ontwrig het.

“Die #FMF-beweging het voorheen tydens protesoptrede op die Kovsies-kampus onder meer damestudente met pangas in koshuisgange rondgejaag. Daarom wil ons hê dat die kampusbestuur ons studente se veiligheid prioritiseer,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder van kampusstrukture.

Indien die UV-bestuur nie daarin slaag om die studente se grondwetlike reg op veiligheid en onderrig te verseker nie, sal AfriForum Jeug ingryp om dit te doen. Die nodige veiligheidstrukture is reeds in kennis gestel van die situasie op kampus en staan gereed om die studente te ondersteun indien nodig.

“Die UV-kampusbestuur moet verantwoordelikheid neem vir die studente se regte en gereed wees vir die protesoptogte wat #FMF beplan,” sê Fourie verder.