AfriForum Jeug eis dat jongmense van regstellende aksie vrygestel word

In die lig van vanjaar se Jeugdag-feesvieringe doen AfriForum Jeug opnuut ʼn beroep op die regering om jongmense van regstellende aksie vry te stel.  AfriForum Jeug het aangekondig dat hy nie met vrymoedigheid kan deel in die Jeugdagvieringe nie, aangesien ʼn groot gedeelte van die jeug nie die vryheid en gelykheid wat die regering aan hulle beloof het, ervaar nie.  Gevolglik het AfriForum Jeug onderneem om sy veldtog om jongmense van regstellende aksie vry te stel, in die komende maande met nuwe inisiatiewe en protesaksies te verskerp. 

Volgens Ernst Roets, uitvoerende hoof van AfriForum Jeug, is die jeug ʼn vry generasie wat nie belas moet word met politieke bagasie van die verlede nie.  “Die meeste jongmense wat vandag by tersiêre instansies studeer, het hulle volledige skoolloopbaan in die post-1994 tydperk voltooi, maar moet steeds gebuk gaan onder ʼn beleid wat nie vir hulle bedoel is nie,” het Roets gesê.

AfriForum Jeug het sy veldtog om jongmense van regstellende aksie vry te stel, reeds in 2006 afgeskop en beplan groot aksies vir die komende maande.  Hierdie aksies sal onder meer ʼn verskerpte petisie om jongmense van regstellende aksie vry te stel; petisionering van die Departement van Arbeid; ʼn visuele uitbeelding van die impak van regstellende aksie op vandag se jongmense; en ʼn opgedateerde verslag oor rassediskriminasie by tersiêre instellings insluit.  AfriForum Jeug het ook onderneem om met die Departement van Onderwys in verbinding te tree oor hierdie “nuwe” vorm van rassisme en die implikasies daarvan vir jongmense.

Roets het weer daarop gewys dat AfriForum Jeug slegs sal stop met hulle veldtog sodra jongmense van regstellende aksie vrygestel is.  “Hierdie beleid skep verdere polarisering en rassekonflik onder ons jongmense.  Ons kan Jeugdag nie met vrymoedigheid vier nie, aangesien ons nie die vryheid en gelykheid ervaar wat die regering aan ons beloof het nie.”