Pukke

AfriForum Jeug eis antwoorde na onregmatige skorsing van studenteraadsvoorsitter

AfriForum Jeug eis antwoorde vanaf prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom (NWU-Puk), nadat dit bekend geword het dat Monica van Schalkwyk, studenteraadsvoorsitter van die NWU-Puk onregmatig van die Institusionele Studenteraad (ISR) af geskors is .

“AfriForum Jeug gaan Maandag ʼn brief aan prof. Kgwadi stuur om agter die kap van die byl te kom. Ons wil weet waarom Van Schalkwyk geskors is en hoe prof. Kgwadi, wat moet toesien dat die ISR korrek optree, dit kon toelaat,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Van Schalkwyk se skorsing kom nadat sy die res van die ISR, wat uit SR-lede van die Mafikeng- asook die Vaaldriehoekkampus bestaan, se voorstel om veto-stemreg in die ISR te implementeer, teengestaan het.

“Indien die voorstel deurgevoer sou word, sou dit beteken dat SR-lede van ander kampusse besluite kon neem oor kampusse waaroor hulle geen kennis dra nie. Dit is verregaande,” het Maree gesê.

Die ISR het egter steeds die voorstel aan die NWU-Raad voorgelê. Van Schalkwyk het na aanleiding hiervan ʼn brief aan die raad gestuur waarin sy die redes uitlig waarom die voorstel nie in ag geneem kan word nie en om te beklemtoon dat die regte prosedure nie gevolg is nie.

Nadat die ISR bewus geraak het van die brief wat Van Schalkwyk gestuur het, het hulle haar sonder rede en sonder om die korrekte prosedure te volg, geskors. “Dit  is kommerwekkend dat ʼn student wat opstaan vir dit wat reg is, stilgemaak en uitgewerk word,” het Maree gesê.

“Dit wil voorkom of ʼn tendens besig is homself te herhaal in sekere Suid-Afrikaanse universiteite. As ʼn SR-lid of werknemers van ʼn universiteit nie saamstem met die leierskap nie, word hierdie persone eenvoudig uitgewerk en stilgemaak. Die NWU kan nie selektief besluit na watter lede van die ISR hulle wil luister en na wie nie. AfriForum Jeug sal die saak monitor en nie huiwer om op te tree teen enige onregverdighede nie,” het Maree afgesluit.