AfriForum Jeug dien klagte in teen Tuks-betoger ná aanranding

AfriForum Jeug Tuks het ʼn klagte van aanranding by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien nadat ’n lid van dié jeugorganisasie tydens die verkiesing van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) by die Universiteit van Pretoria (UP) aangerand is.

Die voorval het verlede week plaasgevind toe betogers dié verkiesing ontwrig het.

“Gewelddadige betogings by universiteite het die afgelope paar maande skerp toegeneem. Gevolglik word studente se veiligheid in gevaar gestel en word hulle van hul reg tot onderrig ontneem. In dié geval is studente ook van hul reg ontneem om aan ʼn vry, veilige en deursigtige verkiesing deel te neem,” sê Jaco Grobbelaar, kampuskoördineerder vir AfriForum Jeug Tuks.

AfriForum Jeug moedig studente en ouers aan om teen diegene wat hulself aan geweld op kampus skuldig maak, op te tree. Die jeugorganisasie is ook bereid om studente by te staan waar moontlik.

AfriForum Jeug doen ook ʼn beroep op studente se ouers om die organisasie se petisie te onderteken en sodoende te verseker dat studente vreedsaam kan studeer. Die skakel na die petisie is https://afriforumjeug.co.za/universiteitsbesture-laat-ons-studente-vrede-studeer/.