Blade

AfriForum Jeug dien klagte by SAMRK in ná Nzimande-uitsprake

AfriForum Jeug het vandag ʼn klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) teen dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, ingedien ná omstrede uitsprake deur die minister. Dit volg nadat Nzimande tydens ʼn toespraak by die Universiteit van Zoeloeland gesê het dat die Nkandla-verslae leuens is wat deur wit mense vertel word.

Die konstitusionele hof het vroeër vanjaar bevind dat president Jacob Zuma ʼn persentasie van die belastinggeld wat nie aan sekuriteitsopgraderings by sy privaat Nkandla-woning spandeer is nie, moet terugbetaal. Hierdie bevinding het deel gevorm van die Nkandla-verslag wat verlede jaar deur Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), bekend gemaak is.

“Waarom maak Nzimande hierdie ʼn rassekwessie, terwyl die verslag uit die kantoor van die openbare beskermer kom? Sulke uitsprake kweek rassespanning eerder as wat dit respek tussen gemeenskappe bevorder,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê.

AfriForum Jeug het die SAMRK versoek om ondersoek na Nzimande se uitsprake in te stel en die versekering te gee dat enige handeling of uitsprake wat teenstrydig met die Handves van Regte is, reggestel moet word.

Neem aan hierdie aksie deel deur jou naam na 32687 te SMS (R1).