OLYMPUS DIGITAL CAMERA

AfriForum Jeug dien klagte in ná inbraak by UP

AfriForum Jeug het Maandag ʼn klagte by die Brooklyn-polisiestasie én by UP-bestuur ingedien teen studente wat die afgelope naweek by AfriForum Jeug se kantoor op die Tuks-kampus ingebreek en foto’s van die kantoor geneem het.   

Dít volg nadat die EFF-studentegroep Sondag hierdie foto’s op sosiale media versprei en die volgende inskrywing op Twitter geplaas het: “@afriforum @afriforumjeug Tuks, we are coming to take them down.”

Kort na hierdie voorval op sosiale media is sekere van AfriForum se plakkate in sy kantoor sonder toestemming verwyder.

Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se koördineerder vir die Tuks-kampus, sê dit is betreurenswaardig dat die universiteit so ver gegaan het om inhoud uit die kantoor van AfriForum Jeug te verwyder.

Volgens Henrico Barnard, AfriForum Tuks se woordvoerder, is die jongste voorval net nóg ʼn voorbeeld van die dubbele standaarde by die universiteit waar die bestuur eerder radikale groepe sal akkommodeer ten koste van ander studente.