Luvuyo-Menziwa

AfriForum Jeug dien klag in teen VSR-lid wat ‘wit mense wil doodmaak’

AfriForum Jeug se Tuks-tak het vandag strafregtelike klagtes by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) teen Luvuyo Menziwa, ’n student en SR-lid van die Universiteit van Pretoria (UP) ingedien. Dit kom nadat Menziwa lasterlike uitsprake wat geweld en intimidasie aanhits op sy Facebook-blad gemaak het. Hy het gesê hy wil wit mense met ’n AK-47 of ’n bazooka doodmaak.

Dié jeugtak het ook vandag ʼn protesaksie op die UP-kampus gehad, waartydens hulle geëis het dat Menziwa summier geskors word uit die SR én van die kampus af. Hulle meen Menziwa se uitlatings kan ʼn negatiewe invloed op studente hê.

Nadat AfriForum Jeug druk op die UP-bestuur en SR geplaas het, het Thabo Shingagne, adjunksekretaris van die SR, omstreeks 13:00 aangekondig dat Menziwa geskors is uit die SR hangende ʼn ondersoek. Volgens Shingagne het Menziwa tot Vrydag om sy baadjie op te hang.

“AfriForum Jeug verwelkom die SR se vinnige optrede en sien uit na konsekwente optrede teen rassisme in die toekoms,” sê Henrico Barnard, woordvoeder van AfriForum Jeug se Tuks-tak.

Volgens Barnard het die UP-bestuur onderneem om AfriForum Jeug binne 24 uur verder in tel lig oor Menziwa se dissiplinêre proses en moontlike skorsing.

Volgens Jaco Grobbelaar, kampuskoördineerder vir AfriForum Jeug se Tuks-tak, is dié voorval nie die eerste van sy soort by die UP nie.

“Hoewel AfriForum Jeug verheug is om te sien dat die universiteit spoedig opgetree het, sal ons aanhou om druk te plaas op die bestuur om te verseker dat Menziwa aanspreeklik gehou word vir sy optrede.”