AfriForum Jeug daag Kovsies-bestuur uit om regstellendeaksie-aanstellings by SAMRK in te dien

AfriForum Jeug het vandag die UV-bestuur en prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), uitgedaag om persone wat as gevolg van regstellende aksie by die UV aangestel is, en studente wat as deel van kwotastelsels in sekere rigtings soos Medies toegelaat is, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aan te gee.

Dié reaksie kom nadat prof. Jansen ’n klag by die SAMRK gaan lê het, nadat ‘n verblyfplek naby die UV onlangs geadverteer is vir “nie-regstellende” persone.

“Ons is teen enige vorm van rasseklassifikasie, maar dit is duidelik dat prof. Jansen selektief omgaan met die tipe rasseklassifikasie wat hy veroordeel,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

AfriForum Jeug veroordeel enige geval waar mense op grond van hulle ras uitgesluit word en beskou juis die UV se stilswye oor ander praktyke as dubbel standaarde.

“Talle studente word jaarliks plek geweier in fakulteite soos Medies juis omdat die UV hulself daarop roem dat hulle transformasie op grond van ras steun. Dieselfde geld vir aanstellings wat by die UV gemaak word waar ras ’n beduidende rol speel. ’n Rektor kan nie kies en keur watter diskriminerende praktyke hy wil veroordeel en watter nie, almal moet oor dieselfde kam geskeer word,” sê Maree.

“ʼn Mens kan nie help om te wonder of dit dieselfde reaksie sou ontketen indien die advertensie deur ’n swart student geplaas was wat swart studente wou bystaan met verblyf nie,” sê Maree.