13124701_295922500738733_714428461456957608_n

AfriForum Jeug bou voort aan Afrikaans ongeag teenstand

AfriForum Jeug het vandag as deel van sy #AfrikaansSalBly-veldtog en om Afrikaans se 91ste bestaansjaar te vier tydelike taalmonumente uit Jenga-blokke gebou waarop daar Afrikaanse woorde gedruk is. As deel van dié vieringe is daar ook 91 ballonne losgelaat. Dié simboliese aksie is op die hoofkampusse van die Universiteit van Pretoria (UP), Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU) gehou, maar is egter verskillend op die onderskeie kampusse ontvang.

Talle studente en dosente aan die UV en NWU het aan die aksie op dié kampusse deelgeneem en die uitbou van Afrikaans verwelkom. Die aksie het sonder ontwrigting en in goeie gees plaasgevind.

Op die US- en UP-kampusse is dié aksie egter ontwrig.

Lede van die EFF het by Rooiplein op die US-kampus opgedaag, ʼn sinkhuis opgerig, braaiers aangedra en vure aangesteek wat nie deur die kampussekuriteit gemagtig is nie. Lede van die AfriForum Jeug-tak by die universiteit het die brandweer en die kampussekuriteit in kennis gestel, waarna dié sekuriteit die vure geblus het en die studente aangesê het om die perseel te verlaat. AfriForum Jeug mag egter met hulle aksie voortgegaan het, wat deur talle studente ondersteun is.

Op die UP-kampus is die tydelike monument wat uit die Jenga-blokke en woorde gebou is deur kampussekuriteit afgebreek en gekonfiskeer, hoewel AfriForum Jeug geen universiteitsreëls oortree het nie.

“Ongeag die voorvalle by US en UP is AfriForum Jeug van mening dat die aksie ’n reusesukses was. Afrikaans het ’n plek in hoër onderwys en die doel van dié aksie was om Afrikaans as taal te vier en uit te bou. Dit was wonderlik om te sien hoeveel studente steeds ’n liefde vir Afrikaans toon en ook vir die behoud van die taal staan,” het Janli Sonntag, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder, gesê.

Studente wat in Afrikaans studeer, staan ’n kans staan om ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 te wen. SMS jou naam en die naam van jou kampus na 32687 (R1).

NWU UP (2) US UV