AfriForum Jeug in Bloemfontein skenk Kersgeskenke aan jeugsorgsentrum

AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak het in samewerking met die Bloemfontein Motorklub, die Harley Davidson Motorfietsklub en Dina van Heerden, die projekorganiseerder, geskenke vanuit die gemeenskap ingesamel vir die jeugsorgsentrum Ons Kinderhuis. Die geskenke is op 14 November 2017 aan die sentrum oorhandig.

“Kinders wat nie so bevoorreg is om elke dag bederf te word nie, het baie spesiaal gevoel toe hulle die geskenkpakkies kry. Dit was wonderlik om te sien hoe die kinders die geskenke geniet en dit met ’n dankbare hart waardeer. Elkeen het my persoonlik kom dankie sê,” sê Petri van der Walt, voorsitter van die AfriForum Jeug-tak in Bloemfontein.

Die jeugsorgsentrum huisves nagenoeg 100 kinders tussen die ouderdomme van een en negentien.

AfriForum Jeug het die geskenkpakkies self opgemaak en die jeugsorgsentrum se Kersboom versier.