AfriForum Jeug bied selfverdedigingsklasse aan as deel van Upington-takuitbreiding

 

AfriForum Jeug het op 15 Februarie vanjaar selfverdedigingsklasse vir 15 jongmense in Upington aangebied met die doel om ook ’n jeugtak op dié dorp te stig.

“Gegewe die misdaadstatistiek in die land is dit belangrik dat Suid-Afrikaners oor die vermoë beskik om hulself te verdedig. Ons wil op hierdie manier ook onder jongmense ’n bewustheid van veiligheid skep,” sê Stephen van Tonder, voorsitter van Upington se AfriForum-buurtwag.

Ná afloop van die klas het Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, en Bernard Pieters, AfriForum se nasionale dorpskoördineerder, die jongmense oor AfriForum Jeug se visie en missie toegespreek. Idees is ook uitgeruil oor watter aksies jongmense in dié dorp in samewerking met die reeds bestaande AfriForum-tak kan aanpak.

“Ons wil ’n ruimte vir jong Afrikaners skep waarin hulle hul kultuur kan uitleef en betrokke kan raak by inisiatiewe om ’n verskil in hul gemeenskap te maak,” sê Marike van As, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

SMS “Upington” na 32687 om by jou AfriForum Jeug-tak in te skakel (R1). Teikengroep: 18 tot 35 jaar.