Spotprent-AfriForum-Jeug

AfriForum Jeug beteken dringende interdik op Universiteit van Stellenbosch se uitvoerende bestuur

AfriForum Jeug se regspan het op Vrydag, 5 Februarie 2016 ʼn aansoek om ’n dringende hofinterdik op die uitvoerende bestuur van die Universiteit van Stellenbosch (US) beteken.

Dit volg nadat dit onder die aandag van AfriForum Jeug gekom het dat minstens twee van die universiteit se fakulteite besluit het om af te wyk van die taalbeleid van die US soos deur die Universiteitsraad, met instemming van die Senaat, bepaal is.

Die burgerregte-organisasie is van mening dat hierdie fakulteitsrade se besluite onwettig en strydig is met die US se taalbeleid asook met die kontraktuele verhoudings wat studente met die US gesluit het en wat op daardie taalbeleid berus.

AfriForum Jeug het ʼn ultimatum aan die US gestel om voor of op Dinsdag, 2 Februarie 2016 onomwonde die versekering te gee dat die bestuur stappe sal doen om die implementering van hierdie afwykende besluite te verhoed.

“Die US-bestuur het versuim om aan ons ʼn onomwonde versekering te gee. Ons het gevolglik voortgegaan met die instruksie aan ons regspan om voort te gaan met die uitreik en betekening van ʼn dringende hofaansoek,” het Bernard Pieters, AfriForum Jeug se verteenwoordiger van die Universiteit van Stellenbosch, gesê.

“Dit is belangrik dat studente besef dat daar ʼn aanslag op hul grondwetlike regte is. Dit is tyd om op te staan en sterk standpunt in te neem teen die miskenning van regsorde en ons regte. Die tyd het aangebreek vir studente om te mobiliseer en hulle stem laat hoor.”

“Ingevolge die Kennisgewing van Mosie om die hofinterdik het die US-bestuur tot en met die sluit van besigheid op Woensdag, 10 Februarie 2016 om hulle opponerende stukke te beteken en liasseer”, het Hein Gonzales, AfriForum Jeug se woordvoerder van US gesê.

“AfriForum Jeug se regspan sal op Vrydag, 12 Februarie 2016 hierdie aansoek in die Kaapstad se Hooggeregshof argumenteer ten einde die regshulp te bekom soos in die Kennisgewing van Mosie vervat.”

“AfriForum Jeug verseker met hierdie interdik dat Afrikaanssprekende studente se grondwetlike regte beskerm en verwesenlik word. Dit is ironies dat die Regsfakulteit by US aan die voorpunt van hierdie grondwetlike regskendings is. Hierdie instansie is veronderstel om juriste te kweek wat verseker dat alle groepe se grondwetlike regte beskerm en verwesenlik word,” het Gonzales gesê.