AfriForum Jeug besoek aftreeoord ter herdenking van Republiekdag

AfriForum Jeug se Kovsies- en Bloemfontein-tak het op 1 Junie 2019 die Rosenheim-aftreeoord in Fichardtpark besoek om Republiekdag, wat op 31 Mei plaasgevind het, saam met die bejaardes te vier. Dié jeugtakke het koeksisters en melkterte vir die bejaardes geneem en tyd saam met hulle deurgebring.

“Ons as die jeug voel dit is belangrik om ons erfenis te vier. Om met ouer mense te praat oor hoe hulle Republiekdag in die verlede gevier het, plaas in perspektief hoe dinge verander het,” sê Marchèlle Malan, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak.

Rosenheim was bly om ons daar te hê en sien uit na ’n volgende besoek. Die jeuglede het ook die aksie geniet en voel dat hulle baie by die ouer mense in die gemeenskap kan leer.

“Pres. Paul Kruger se aanhaling, ‘Want wie vir hom ’n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie’, was perfek vir hierdie geleentheid by Rosenheim. ’n Mens leer by die vorige generasies wat om in die land te doen sodat ons as jeug ’n helder toekoms kan hê,” vertel Petri van der Walt, voorsitter van die jeugportefeulje van AfriForum se Bloemfontein-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na chantelle.dupreez@afriforum.co.za of SMS “Kovsies” na 32687 (R1).