AfriForum en AfriForum Jeug maak vleiland in Moreletapark-natuurreservaat skoon

AfriForum en AfriForum Jeug se interns het op 27 Junie 2019 Moreletapark-natuurreservaat se vleiland skoongemaak.

Die aksie is geloods na AfriForum ingelig is dat dié vleiland met rommel besoedel is. AfriForum het besluit om hierdie aksie self aan te pak omdat omgewingswelstand die organisasie baie na aan die hart lê.

Volgens Rudolph de Villiers, een van die interns, is sulke aksies baie nodig om tot die bewaring van ons omgewing by te dra.

Heelwat rommel is opgetel en op ’n gepaste wyse herwin. “Ek was verbaas oor hoeveel gemors ons gevind het! Ek dink wel dat die vleiland meer gereeld skoongemaak moet word,” sê Chané Venter, nog ’n intern.

AfriForum streef daarna om mense te inspireer om omgewingswelstand te ondersteun deur soortgelyke projekte aan te pak.