uv-2-scaled

AfriForum-buurtwagte ontruim UV-studente uit koshuise

AfriForum-buurtwagte het gister ongeveer 80 studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) van die kampus ontruim. Dít kom nadat dié studente gister deur betogers in verskeie koshuise vasgekeer  is.

Studente het AfriForum Jeug se Kovsies-tak in kennis gestel dat hulle verskeie dreigemente van betogers buite die koshuis ontvang het. Een van dié dreigemente het gewaarsku: “Maak seker dat jy nie alleen uit die koshuis kom nie, anders gaan jy seerkry.”

“Ons kon eenvoudig nie die studente se hulproep ignoreer nie. Daarom het ons die buurtwag gekontak,” sê Chantelle du Preez, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak. Pieta Myburg, voorsitter van AfriForum se Fichardtpark-buurtwag het beaam dat dit ’n voorreg was om dié studente te help.

AfriForum Jeug maan studente wat nog op kampus bly om die kampus vir veiligheidsredes te verlaat, aangesien die universiteit tot Maandag, 29 Februarie 2016 gesluit is.

Daar is gratis verblyf beskikbaar vir studente wat behuising benodig. Kontak vir Marike van As, AfriForum Jeug se Kovsies-kampuskoördineerder, by marike@afriforum.co.za vir enige navrae rondom verblyf.