Puk-student-wen-studiebeurs

Puk-wenner van AfriForum Jeug-studiebeurs aangekondig

AfriForum Jeug het gister op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus aangekondig dat Alexa Kellner dié universiteit se wenner van die jeugorganisasie se R20 000-studiebeurs is. Die sanggroep Saarkie het by dié geleentheid opgetree en vir hope vermaak gesorg.

Die organisasie het onlangs die eerste twee beurswenners by die universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat aangekondig en sal binnekort ook die laaste wenner by die Universiteit van Pretoria bekend maak.

Dit spruit uit die jeugorganisasie se aankondiging vroeër vanjaar dat vier Afrikaanssprekende studente, een by elk van dié universiteite, dié studiebeurs kan wen.

Die beurs-en-studiefonds is gestig ten bate van Afrikaans, en studente wat in dié taal wil studeer. Dit vorm ook deel van AfriForum Jeug se Afrikaans sal bly-veldtog.

Volgens Ohann Fourie, kampuskoördineerder by die NWU-Pukke, sal skenkers en alumni wat bydraes tot die fonds wil lewer nie net ’n verskil in Afrikaanssprekende studente se lewens maak nie, maar ook ’n verskil in die bevordering en ontwikkeling van Afrikaans teweegbring.

Fourie sê voorts dat die fonds onafhanklik deur Helpende Hand bestuur word en onder geen politieke druk die knie sal buig nie.

“Ons is trots op ons taal en sal opstaan vir studente se reg om in hul moedertaal te studeer,” sê Chané de Ru, voorsitter van die AfriForum Jeug-tak by die NWU-Pukke.

Alumni of skenkers wat tot AfriForum Jeug se studiefonds wil bydra, kan ’n e-pos aan Evalna Pieterse stuur by evalna@afriforum.co.za of die woord “Beurs” na 32687 SMS (R1).