Wit studente ontwikkel ’n weersin weens dubbele standaarde
Rasseverhoudings in Suid-Afrika het ʼn nuwe laagtepunt bereik na ’n reeks insidente op universiteite regoor die land.
Onlangs het twee damestudente van die Universiteit van Pretoria (UP) hulleself by ’n privaatpartytjie swart geverf. Kort nadat die foto die lig gesien het, is hulle summier uit hul koshuis geskors sonder dat enige ondersoek na die saak afgehandel kon word. Die DA se studente-organisasie, DASO, het klagtes teen hulle ingedien en die ANC-geaffilieerde studente-organisasie, SASCO, het alweer gedreig om universiteite regoor die land tot stilstand te bring. Die Menseregtekommissie (MRK) het ook ʼn ondersoek na die “skandaal” onderneem.
Nie lank daarna nie het nog ʼn foto die rondte gedoen. Hierdie keer het twee wit studente van die Universiteit van Stellenbosch (US) hulle gesigte by ’n vriend se verjaardagpartytjie swart geverf. Hulle het soos Venus en Serena Williams aangetrek. Ook hier het die media vinnig op die storie geklim: “Black face scandal hits Stellenbosch,” het een mediahuis gerapporteer. Soos verwag, het die universiteit ook hier in die openbaar verklaar dat ’n ondersoek gelas word en die studente was genoop om in die openbaar vir hul “wangedrag” verskoning te vra.
Dit was nie lank nie, of die debat het op Twitter in ’n groot grap ontaard. Tientalle foto’s van swartmense wat hulleself wit geverf het, het skielik opgeduik en die algemene vraag was waarom hierdie mense nie ook van rassisme beskuldig word nie.
Vroeër vanjaar het twee wit studente by die Universiteit van die Vrystaat (UV) in ’n swart student vasgery. Die studente is daarvan beskuldig dat hulle dit doelbewus gedoen het en die swart student sommer aangerand het. Dit is as ’n daad van rassisme bestempel. Die studente is sonder ’n dissiplinêre verhoor, op aandrang van die rektor, deur die universiteit geskors en selfs in die openbaar erg beledig. ’n Hof het hulle egter op alle aanklagtes onskuldig bevind en die MRK het bevind dat die voorval nie rassisties was nie. Kort na hierdie insident het die teenoorgestelde gebeur, toe ’n wit student deur ’n swart student vanaf sy bromponie gestamp is en aangerand is. Die swart student is ook aangekla, maar in hierdie geval het die universiteit in die openbaar geswyg en is die saak gelos nadat die student self skuld erken het en ’n boete betaal het.
By die Potchefstroomkampus van die Noord-Wes Universiteit het die minister van Hoër Onderwys besluit om in te gryp nadat daar in die media berig is dat daar beweerde “Nazi-aktiwiteite” op die kampus plaasvind. Die feit dat ’n onafhanklike ondersoek bevind het dat daar nie Nazi-aktiwiteite op die kampus is nie, het die minister nie van stryk laat bring nie. In Rapport verklaar hy dat hy nie omgee wat enige iemand vir hom daaroor sê nie, omdat hy reeds oortuig is dat die studente hulle met Nazi-praktyke gebesig het. Valse beskuldigings van Nazisme word nou as ’n groen lig gebruik om die kampus “radikaal te transformeer”. In die proses word daar nou selfs gedreig om Afrikaans by die PUK saam met die badwater uit te gooi.
Kort daarna verskyn ’n rassistiese pamflet op die kampus met die woorde “Kill the Boer, kill the Racist, Kill Afrikaans.” Die ANC-gesinde Higher Education Transformation Network (HETN) reik ’n verklaring uit en verklaar dat daar bewerings is dat hierdie pamflet deur sogenaamde regses versprei is. Die organisasie was egter nie in staat om te antwoord wie hierdie bewerings gemaak het nie en dit blyk dat hulle die “bewerings” self uitgedink het.
Kort nadat die pamflet sy verskyning gemaak het, het die nuwe rektor van die NWU, prof. Dan Kgwadi, sy stem by hierdie sentiment gevoeg deur te verklaar dat die universiteit ’n ondersoek na die bron van hierdie pamflet gelas het, maar onmiddellik bygevoeg dat die moontlikheid dat die pamflet deur “regses” versprei is, nie uitgesluit word nie. ’n Afrikaanse dagblad wat hieroor berig het, het nie geskryf dat die moontlikheid van regse betrokkenheid “nie uitgesluit word nie”, maar sommer dat die pamflet nou “glo” deur regses opgestel is.
’n Mens kan maar net wonder waarom universiteitsbesture bereid is om in sulke gevalle so drasties op te tree, terwyl daar met handskoene opgetree word wanneer ANC-gesinde jeugleiers hulle aan wangedrag skuldig maak. Ek het self al hieroor by die UP-bestuur beswaar aangeteken. Die geval waaroor ek destyds gekla het, het ongelukkig veel meer as gesigverf behels. Dit het verband gehou met ʼn onwettige SASCO-protestoptog, waartydens klasse ontwrig is en studente met geweld gedreig is. In antwoord op my beswaar is aan my verduidelik dat ’n dissiplinêre proses ’n privaataangeleentheid is en dat die universiteit nie eers aan die klaer kan bekend maak watter stappe teen die betrokke studente geneem word nie. Die argument was dat dit die (seker maar toevallig swart) student se regte sou skend as inligting oor ’n dissiplinêre proses aan enige iemand anders as die beskuldigde gekommunikeer word. Sover my kennis strek is daar in hierdie geval nooit opgetree nie. Vreemd dat hierdie ingesteldheid klaarblyklik nie geld wanneer die gelaatskleur van die beskuldigdes anders lyk nie.
Een ding is egter seker: terwyl die rassismedebat by universiteite oor die land heen voortduur is rassespanning nie aan’t verbeter nie. Die teenoorgestelde gebeur eerder. Daar is ’n groeiende weersin onder wit jongmense aan die ontwikkel – ’n weersin wat gesetel is in die feit dat jong wit Suid-Afrikaners bloot op grond van die kleur van hul vel tot tweedeklasburgers gedegradeer word en deurlopend onder growwe vorme van dubbele standaarde gebuk moet gaan.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum