Wie is ons?
AfriForum Jeug is ’n geloofwaardige jeugorganisasie wat sig vir die belange van jong Afrikaners beywer, en gee jong Afrikaners dus geleentheid om eienaarskap van hul eie toekoms te neem. Dit behels om op unieke maniere te help veg en bou sodat jong Afrikaners ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms in hul vaderland kan hê en trots kan wees op hul erfenis en identiteit.
AfriForum Jeug is gegrond op Christelike beginsels en beywer sig vir onder meer die verkryging van kulturele vryheid en die uitbou van die Christelike demokratiese ideesraamwerk. By AfriForum Jeug glo ons in pres. Paul Kruger se sentiment dat ons uit die verlede moet neem wat goed is en die toekoms daarop moet bou.
Ontmoet die span

Tania Scheepers
Junior Jeugbeampte
Ek is ’n jong werkende by die dag en deeltydse student by die nag – multitasking is basies my tweede naam! In die Jeug-span is ek nie net die regterhand nie, maar sommer beide voete ook 😉. Ek sit graag ’n huppel in die stap en gooi altyd ’n bietjie ekstra energie in die mengsel.
My brandstof: goeie musiek, sokkie en popcorn!!!

Wikus van der Walt
Strukture-beampte
Ek is Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se strukture-beampte. Ek is verantwoordelik vir die bestuur en ondersteuning van al ons dorpstrukture, wat onder meer opleiding, beplanning, begroting en die uitvoer van projekte insluit. In my vrye tyd geniet ek dit om lekker kos te eet – en my gunsteling gereg is beslis lasagne.

Yvonne Gerber
Jeugbeampte
Ek is Yvonne, Jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug. My werk? Ek spoor studenteleiers op, dryf veldtogte teen onreg op kampusse en leer jongmense hoe om op te staan vir dit wat reg is. Ek is ’n stem vir studente en hul regte, maar ook ’n mentor wat hulle toerus om selfvertroue te bou, hul drome na te jaag en praktiese verskilmakers in hul gemeenskappe te word – of dit nou is deur veiligheidsopleiding, projekte soos die herstel van slaggate of ons AfriForum Jeug Helpende Hand studiefonds.
Ek glo vas: As jy vir niks staan nie, val jy vir alles. En as jy ’n verskil wil sien, begin dit by jou deur deel van die oplossing te wees!

Hanno Koster
Jeugleier
Ek is Hanno, AfriForum Jeug se jeugleier. Ek’s mal oor sport, sosiale geleenthede en om jongmense bymekaar te bring, gelukkig is dit alles deel van my portefeulje! As ek nie besig is om aksie te dryf nie, geniet ek graag ’n pienk Steri Stumpie saam met ’n fudge Twinkie.