Untitled design (13)
| DeurAfriForum

Waar kom jy vandaan, en waarheen wil jy gaan?

Maree van den Berg se meningstuk was tweede in AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!

Jy kan die persoon uit die moeilikheid kry, maar jy kan nie die moeilikheid uit die persoon uit kry nie.

Hierdie stelling wat soms baie komies gebruik word, is tot ’n mate waar ten opsigte van die Afrikaner se erfenis. In ons pragtige Suid-Afrika is daar soveel wat teen die Afrikaner werk, en soveel wat probeer om ons erfenis uit te wis, om ons te kniehalter …

Ek glo egter dat dit vir die trotse Afrikaner onmoontlik is om gekniehalter te word, solank hy weet waar hy/sy vandaan kom.

Ná afloop van die splinternuwe, roerende musiekblyspel, Die Gelofte, glo ek dat honderde (dalk duisende!) Afrikaners weer hulle wortels in hul kultuur en geloof gevestig het. Soortgelyke roerende vertonings het al in die verlede ’n kortstondige effek op my eie lewe gehad, maar Die Gelofte het egter ’n diepe sentimentele snaar van my hart geroer wat ’n blywende effek op my gehad het.

Hierdie musiekblyspel het vir Afrikaners opnuut herinner waar hulle vandaan kom en wat ons voorsate vermag het met ’n bietjie buskruit en baie geloof.

Net soos hierdie musiekblyspel, spreek ’n enkele standbeeld of monument letterlik boekdele oor ’n gebeurtenis in die verlede. En nes jy ’n persoon uit die moeilikheid kan kry, kan die Afrikaner se standbeelde en monumente vernietig word. Die waarheid daarvan, wat diep in ons en in elke stukkie steen ingeëts en gekerf is, kan egter nooit vir ons vernietig word nie.

Hierdie waarhede gee ons as Afrikaners die moed om moeilike dinge in ons lewens aan te pak. Hoe sal ons vol moed kan bly as ons nie daardie stories ken nie?

In vandag se wêreld is daar soveel jongmense wat in ’n stryd is om hulself te vind, en in hierdie stryd anker hulle hulself in die verkeerde dinge. Ons standbeelde en monumente – wat elkeen ’n treffende storie vertel – kweek daardie kultuurvasheid en trots in enigiemand wat die beeld se storie ken!

Daarmee saam, het hierdie vastigheid yslike sterk leiers op alle velde tot gevolg. Wil almal nie maar ’n stabiele, gegronde leier volg wat sy vastigheid in iets sinvol vind nie? Kyk elkeen nie maar op na ’n patriotiese burger wat sy waardes in plek het nie?

Hierdie trots en sekerheid wat gekweek word is nie net ’n stuk gereedskap wat gebruik kan word vir slegs kultuurverwante dinge nie, maar is ’n lewensverandering wat oorspoel in elke aspek van ons lewens. Of dit op die rugbyveld is, in die skool, koshuis of in die parlement: ’n Leier wat in sy kultuur gegrond is, is ’n uiters gesogte leier. Hierdie inspirasie word onder andere opgedoen d.m.v. die kennis van ons verlede deur ons standbeelde en monumente.

Die Afrikaner hoef ook glad nie sy trots te bewys nie, want dit is absoluut ooglopend dat die Afrikaner sélfsy erfenis sal onderhou en beskerm, omdat hierdie beskermers reeds weet waarheen hulle as Afrikaners op pad is.

Ons onderhou self ons erfenis, vorm self ’n muur om ons standbeelde op kampus te beskerm, bestuur self ons monument en rig self nuwe monumente op.

Maree van den Berg is ’n 20-jarige lewenslustige fotograaf, videograaf, rugbyspeler en sêr-sanger wat in sy aftyd BSc Agric Veekunde by Tukkies studeer. Hy is in Sonop-koshuis, hou van avonture en is bitter lief vir Afrikaans en Afrikaanse digkuns.

Instagram-handvatsel: mareevdb_schrimpie