VSR-kandidaat van Tuks verteenwoordig jeug by VN

AfriForum Jeug gaan die kwessie oor die kwotastelsel internasionaliseer wanneer Henrico Barnard, AfriForum Jeug Tuks se VSR-presidentskandidaat, in Augustus na die Verenigde Nasies gaan om die jeug dáár te verteenwoordig.

Die besoek fokus op bewusmaking en nie noodwendig om simpatie in te win of ondersteuning te vra nie. Daar gaan debatte oor rasgebaseerde uitsluiting gevoer word, asook oor die invloed wat dit op Suid-Afrikaners het. Suid-Afrikaners word al meer aan kwotastelsels blootgestel – met die jeug wat die swaarste daardeur getref word.

Die Universiteit van Pretoria het onlangs ’n beleid aanvaar wat bepaal dat 60% van alle aanvaarde studente op kampus swart moet wees. Dit is ’n ondeurdagte, drastiese beleid wat sonder twyfel tot uitsluiting sal lei. Universiteite voer deurlopend die argument dat hulle na ’n inklusiewe kultuur op kampus streef. Die tipe beleidbesluite wat geneem word, toon egter dat dit duidelik nié die geval is nie en dat daar eerder blatant op grond van ras gediskrimineer word.

Die Sunday Tribune het onlangs berig dat voornemende Indiese studente aan die Universiteit van KwaZulu-Natal wat in ’n mediese rigting wil studeer beamptes betaal om hulle as bruin mense te klassifiseer. Die rede hiervoor is die universiteit se rasgebaseerde kwotas wat deur die mediese skool toegepas word. Dit is kommerwekkend dat meriete geïgnoreer word en keuring eerder op ras gebaseer word.

Kommunikasie met universiteitsbestuur het ’n punt bereik waar enige kommentaar ten opsigte van kwotas – of die meer algemene eufemisme “transformasie” – op dowe ore val.

Studente is dus genoop om self aan oplossings te dink.

AfriForum Jeug is van mening dat rasgebaseerde regulering van geleenthede op universiteitskampusse elke student se grondwetlike reg vertrap.

Elke mens verdien ’n regverdige plek in die son.

 

-Deur Henrico Barnard