1914-vroue-op-Kerkplein-voor-optog
| DeurAfriForum

Vrouemaand: Suid-Afrika se eerste vroue-optog en Afrikaner vrouehelde

In Suid-Afrika staan Augustus bekend as “Vrouemaand.” Ons by AfriForum Jeug laat nie toe dat die regering vir ons dikteer wanneer ons watter erfenis moet herdenk nie. Augustus is egter vir ons ook ’n gepaste maand om vrouehelde vanuit die Afrikanergeskiedenis te herdenk, want in hierdie maand, 108 jaar gelede, het Afrikanervroue die heel eerste vroue-optog in Suid-Afrika gelei.

9 Augustus is Suid-Afrika se Nasionale Vrouedag en dit gedenk die nasionale optog van vroue op hierdie dag in 1956 (67 jaar gelede) om beswaar te maak teen paswetgewing. Maar dit was nie die eerste vroue-optog in Suid-Afrika nie.

Die eerste vroue-optog het op 4 Augustus 1915 plaasgevind. Hendrina (Drienie) Joubert, die 84-jarige weduwee van die ZAR se kommandant-generaal, Piet Joubert, het hierdie vroue-protesoptog na die Uniegebou gelei. Sy was een van baie vroue wat verslae was oor die Rebellieleiers se straf. Wanneer jou ouers sê dat jy rebels is, is dit beslis nie ’n kompliment nie, so kom ons verfris net eers die geheue oor waarom ons met respek van die 1914 Rebelle praat.  

Die Rebellie van 1914 was ’n opstand teen die regering se besluit om aan Brittanje se kant teen Duitsland in die Eerste Wêreldoorlog te veg, en Duits-Suidwes-Afrika (vandag bekend as Namibië) in te val. Die Rebelle was nie bereid om net 12 jaar nadat die Anglo-Boereoorlog in 1902 geëindig het saam met die Britte te veg nie en ook nie om teen Duitsland, wat die Boererepublieke goedgesind was tydens die Anglo-Boereoorlog, te veg nie. Dit was beslis ’n baie komplekse hoofstuk in ons geskiedenis.

Die wonde wat die Britte se konsentrasiekampe en Verskroeideaarde-beleid veroorsaak het, was nog rou, en vele Afrikaners het goeie vriende en nabye familie in Duitsland gehad. Die Rebellieleiers, soos Christiaan De Wet, Manie Maritz en Jan Kemp, asook hul ondersteuners het aktief teen die regering se troepe in opstand gekom.

Die regering het ’n krygswet afgekondig om die Rebellie te onderdruk en met baie meer militêre hulpbronne tot hulle beskikking kon hulle dit ná vier maande bereik. Ná hierdie uitkoms wou die regering die Rebelle straf vir hoogverraad. Een Rebellieleier, Jopie Fourie, is tereggestel, terwyl omtrent 5 000 Rebelle beboet is en tot tronkstraf gevonnis is.

Drienie Joubert en tussen 3 000 en 6 000 Afrikanervroue het toe op 4 Augustus 1915 aan die eerste vroue-optog deelgeneem. Hulle het meer as 65 000 vroue van oor die hele land verteenwoordig wat druk op die regering wou plaas om veroordeelde rebelle vry te laat. Die groep vroue het aan die regering ’n versoekskrif oorhandig om te vra dat De Wet vrygelaat moes word, en dat die ander Rebelle wat gevonnis is, amnestie moes kry.

Die regering het ongelukkig nie toegegee aan die vroue se versoeke nie, maar dit beteken nie dat die optog onsuksesvol was nie. Van die suksesse was:

  • ’n sterker volksgevoel onder die Afrikaners
  • ’n bron van moed en inspirasie vir toekomstige gebeure
  • die ontwaking van die Afrikanervrou as polities aktiewe figuur

Ons kan vandag met trots terugkyk en opkyk na Afrikanervroue wat heldedade gedoen het. As ons na die verloop van tyd as ’n afloswedloop kyk, kan ons sê dat ons die aflosstokkie met trots by hierdie vroue sal neem en in ons unieke uitdagings ook sal streef om ’n volksgevoel onder Afrikaners te bewaar en te bevorder.

AfriForum Jeuglede gaan daarom in die week van 1 tot 8 Augustus elke dag ’n vroueheld vanuit ons geskiedenis herdenk met ’n artikel wat bespreek waarom sy as ’n held beskou word.

Hou die blad dop!