Deur Chantelle du Preez

Ons taal verjaar vandag. 96 jaar oud. ’n Taal met ’n unieke identiteit wat deur ons mense gevestig is. Afrikaans is eers in 1925 as een van twee amptelike landstale aanvaar, al was dit reeds in 1914 as amptelike skooltaal erken. Die behoefte om godsdiens in ons taal uit te oefen, het gelei na die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling wat in 1933 gepubliseer is. Dit is ’n taal wat deur die Britte onderdruk is, waar kinders op skool wat Afrikaans gepraat het, gestraf is deur ’n bordjie om hul nek te dra waarop staan “I am a donkey”. Afrikaans word vandag steeds in skole, universiteite en soms in die werkplek onderdruk, maar soos die waboom na ’n brand, leef en blom dit steeds.

Vandag vier ons Afrikaans en wat dit vir ons beteken. Selfs ons mense in die buiteland voel tuis as hul ’n Afrikaanse woord of gesprek hoor en gee dit hul ’n gevoel van wie ons is en waar ons vandaan kom. Afrikaans is nie net ’n taal nie, dit is enig in sy soort. Dit is die taal waarin ons kan lag, huil, bid en liefhê.

Ons baklei die afgelope paar jaar teen die verengelsing van ons skole en universiteite. Juis die plekke waar ons moedertaalonderrig nodig het om sukses te behaal. Dit is belangrik om Afrikaans as onderrigtaal te hê sodat ons jonger geslagte verder aan ons taal kan bou en dit kan laat voortleef. Ons is geregtig om in Afrikaans te leer soos in die Grondwet van ons land uiteengesit. Die kennis en vaardighede wat ons in ons eie taal leer, kan ons weer in ons gemeenskappe terugploeg. Afrikaans as taal skep geleenthede wat ons met albei hande moet aangryp. Ons moet ondernemings ondersteun wat in Afrikaans dienste lewer, en ons sangers, akteurs, digters en skrywers se werk aankoop en optredes bywoon. Plaaslike radiostasies en die ou Afrikaanse stories wat weer daarop gespeel word, is net so belangrik om Afrikaans as taal te bevorder. So sal ons Afrikaans vir jare behoue laat bly.

“Opstand in ’n volk is net so noodsaaklik as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie. Wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan,” skryf N. P. van Wyk Louw. Ja, dit is maklik om te sê dat Afrikaans nie sal verdwyn terwyl ons steeds die taal by die huis praat nie, maar as ons nie opstaan en nee sê vir beleide wat keer dat ons Afrikaans mag gebruik nie, sal al die jare se werk verniet gewees het. Ons moet ophou om bang te wees om op te staan vir dit waarin ons glo. Ons is nie alleen nie en saam sal ons die nodige verskil kan maak. Hoe vervelig sou ons lewens nie wees sonder Afrikaanse woorde soos biltong, boerewors, braai, knormoer, petroljoggie, skobbejak, tierlantyntjies en so meer nie. Gaan uit en geniet ons taal, wees vreesloos Afrikaans.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *