Veronderstel

Ná die herdenking van die Kerkstraatbom besef ek hoe min van vandag se jeug werklik ‘n konsep het van hul eie land se geskiedenis. Dit is ‘n skokkende ontnugtering en ek besef meteens die die rede hiervoor: die ANC het met sy eensydige oorvertelling van die geskiedenis veroorsaak dat jongmense net een kant van die land se geskiedenis ken en verstaan.

Veronderstel ons het geleef in ‘n land waar die ware geskiedenis gebalanseerd geskets word. ‘n Skets wat reël vir reël die gebeure opteken en die volle weergawe van gebeure bied.

Veronderstel ‘n geskiedenis wat nie net bestaan uit die swart stamme wat in Afrika ‘n bestaan gevoer het nie. ‘n Geskiedenis waar Afrikaners nie net boos is nie en swart leiers nie net onbevlekte helde is nie, maar ʼn geskiedenis waarin daar vertel word hoe Shaka Zulu en Mzilikazi hulle eie mense uitgemoor het en hoe Dingaan Piet Retief en sy manskappe in ʼn hinderlaag gelok en vermoor het.

Veronderstel ʼn geskiedenis waar ANC-leiers se optrede nie sonder meer as heldedade verkoop word nie maar waarin daar vertel word hoe hulle planne soms tot die dood en verminking van onskuldige burgers gelei het. Waarin tereuraanvalle soos die Kerkstraatbom, die bomaanval in Amanzimtoti en die bomaanval by Magoo’s in Durban opgeteken is. Hierdie terreurdade het alles in opdrag van leiers soos Chris Hani, Joe Slovo en Oliver Thambo plaasgevind. Vandag word hierdie mense as volkshelde voorgehou en word strate en dorpe na hulle vernoem terwyl die slagoffers van hierdie koelbloedigheid vergeet word.

Die ANC vergeet geriefshalwe om te vertel van die meer as 500 mense wat sedert 1984 in halssnoermoorde dood is, honderde mense is lewend aan die brand gesteek is en die 250 mense wat deur bom- en landmynontploffings deur die ANC vermoor is. Die ANC  het in 1980 die Geneefse Konvensie onderteken en daarmee ingestem dat gewone Suid-Afrikaners nie in terreuraanvalle geteiken sal word nie. Tog was 80% van die ANC se terreuraanvalle sedert 1985 gemik op onskuldige burgerlikes. Hoekom leer kinders nie dat hierdie feite ook deel is van die “trotse” ANC-geskiedenis nie?

Waar is die trotse Afrikaner-geskiedenis wat ek op skool geleer het? ‘n Geskiedenis waar die Uyse, Retiefs en Potgieters, wat die moed gehad het om die onbekende in te gaan, te verken en daar ‘n nuwe tuiste te skep, vereer word. Republiekwording, Paul Kruger-dag en Geloftedag moet vir ewig deel wees van ons geskiedenis. ‘n Geskiedenis waarin Spioenkop, Magersfontein en Amajuba as historiese veldslae herdenk word. Die gesigte van generaal De la Rey, generaal De Wet en Danie Theron moet deel van ons volksgeheue wees. Slagoffers van tereuraanvalle moet onthou word, naas die jong seuns wat hul lewens verloor het, ver van hul ouershuise. Ek wil deel wees van ʼn geskiedenis waarin die Afrikaner nie net as ʼn boosaard en geweldenaar uitgebeeld word nie, waarin se jongmense nie veroordeel en te na gekom word oor dit wat in die verlede gebeur het nie.

Veronderstel dit is alles moontlik. Dit is moontlik. AfriForm Jeug sal aanhou om die gebeurtenisse, veldslae en persone in ons geskiedenis te onthou en te vereer. Sodat ons nie vergeet nie.

Henk Maree is AfriForum Jeug se Nasionale Voorsitter