TRAP VIR JOU TOEKOMS-SPANINSKRYWINGS
AfriForum Jeug se Tuks- en Sol-Tech-tak bied ’n 12 uur lange fietsryuitdaging by Sol-Tech aan op 10 Augustus 2026 van 10:00 tot 22:00.
Hierdie geleentheid is daarop gemik om verskeie jongstudente-instellings soos Akademia, Sol-Tech, Tuks en Tuks-koshuise die geleentheid te bied om fondse vir hul onderskeie instansies in te samel, asook om bande met ander jongmense van dieselfde ingesteldheid te smee. Hierdie is ook ’n gulde geleentheid vir jong studente om Vrouedag saam te vier en die vroue van hul instansie te vereer deur ’n dag vol gees, kameraadskap en lekker aktiwiteite – van ’n braaibroodjiekompetisie, boeresport, geesbeker, zef troue, neon, “beer pong”, bier-uur tot ’n sokkie en dit alles terwyl jou spanmaat die pedale trap om nog ’n paar kilometer vir die span bymekaar te maak.
AfriForum Jeug se Tuks- en Sol-Tech-tak daag jou uit om aan hierdie 12 uur lange fietsryuitdaging te kom deelneem!
"*" indicates required fields
- Daar is drie kategorieë (mans, dames en gemeng) waarvoor daar ingeskryf kan word.
- ’n Span moet uit ten minste tien lede bestaan.
- Inskrywingskoste is R300 per span.
- AfriForum Jeug voorsien die fietse waarop daar deelgeneem word.
- Toegang: Elke span ontvang ’n eenmalige QR-kode, wat hulle by Sol-Tech se hoofhek moet wys vir toegang. Daarna ontvang elke deelnemer en toeskouer ’n gekleurde bandjie om die terrein te verlaat en weer te kan inkom.
- Elke span moet sy toegewysde area mooimaak. Dit kan Maandag 10 Augustus van 08:00 tot 09:30 gebeur. Die mooimaak van stalletjies sluit in gazebo’s, foto’s, stoele, tafels, banke, ballonne en so meer.
- GEEN eie drank en/of kosse word toegelaat nie, en spanne kan gediskwalifiseer word indien hierdie oortree word. Die Kraal by Sol-Tech sal van 10:00 tot 22:00 oop wees om sowel drank as verskeie kosse, lekkers, koeldrank en energie-aanvullers te verkoop.
- Daar sal ’n braaibroodjiekompetisie plaasvind, en elke span moet vooraf hul eie bestanddele vir die kompetisie saambring. Ons voorsien brood, tamatie, botter en uie.
- Slegs twee ondersteuners word by elke fiets toegelaat. Die res van die ondersteuners kan hul span ondersteun in die areas wat aan hulle toegewys is, of aan van die ander aktiwiteite deelneem.
- Geen alkohol word naby die fietsryarea toegelaat nie, tensy so aangedui deur die seremoniemeester.
- Daar moet te alle tye iemand op die fiets wees wat besig is om te trap.
- Elke span kan bykomende borge kry, mits dit aan AfriForum Jeug gekommunikeer word. Borgvorms is op aanvraag beskikbaar.
- Elke span is vir sy eie kleredrag verantwoordelik wat by die temas moet inskakel soos op die program aangedui. Dra iets wat jou span uitsonder en jou instansie/koshuis se naam aandui.
- Deelnemers moet tussen 08:00 tot 09:45 op 10 Augustus 2026 by Sol-Tech registreer.
Bankbesonderhede:
- Eerste Nasionale Bank
- Takkode: 261550
- Rekeningnr: 62349898398
- Verwysing: TRAP + Instansie/span Naam
- E-pos bewys van betaling na jeug@afriforum.co.za

