Sy Brandt vir haar land
Hierdie brief kom uit Marisha Hermann se hand, en fiktief uit Johanna Brandt se hart.
Pa Nicolaas Jacobus van Warmelo is in sy graf. Hy was die eerste predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk op Heidelberg. Hy het saam met die Boere geweier om die Britte se oorheersing te aanvaar. Ek was maar net vier jaar oud. Ek het nie geweet wat aangaan nie, maar Pa het my geïnspireer om ’n Boer te wees. ’n Patriot. Hy was lief vir musiek.
Ek is Johanna Brandt; my familie en vriende noem my Hansie.
Ek en Ma het ná pa se dood van Heidelberg na Pretoria getrek . Ons het op die plaas Harmonie gebly. In Heidelberg was ek ’n student van mnr. Ayliff en later aan die Doornfontein College in Johannesburg gaan studeer. Ek het in Engels geleer en geskryf, maar in die huis het ons trots Afrikaans gepraat. Ek het altyd daarvan gehou om te sing en klassieke musiek op die klavier te speel. In 1897 was ek in die wolke toe ek vir Louis Ernst Brandt ontmoet! Ek het my man ontmoet!
Daarna het die wolk waarop ek geloop het donker geraak. Die oorlog was donker. My oorlogsdagboek dra baie waarde. Ek het geskryf oor broer Fritz wat ek op die stasie moes groet. Op 6 Junie 1900 om 15:00 het die Union Jack op Kerkplein gewapper en ’n orkes het “God save the Queen” gespeel. Ek het die Vierkleur trots gedra terwyl ek fietsgery en dié gedoente aanskou het. Ek het my dagboek afgesluit met: “The end of my war-diary: – I am too tired now.”
Die Britte het ons met reëls en regulasies beheer. Alle briewe wat ons gestuur het of ontvang het, was gesensor. Ek is trots om te sê ek en Ma het kreatief geraak om steeds aan die familie te skryf. Ons het met familie gekommunikeer deur briewe in poppe se hol koppe, in portretrame of onder die voering van sigarethouers weg te steek. Ons het later uitgevind dat ons met suurlemoensap kan skryf en dat die woorde eers sigbaar word as jy die papier bo ’n kersvlam hou. Ons het op dié wyse aan Oom Paul in Nederland geskryf oor wat in Pretoria aangaan.
Willie Botha het op ’n dag kom kuier. Hy was deel van die geheime diens en Harmonie het die tuiste van spioenasiewerk geword. Ons het die Geheime Kommissie op verskeie maniere gehelp. Ek het ondermeer dinamiet na die Boere met my fiets gevat. Op 8 September 1901 is die Geheime Kommissie deur die Britse soldate in hegtenis geneem. Daar was ’n verraaier. Dit was egter nie die laaste van die spioenasiewerk op Harmonie nie. Die Kappiekommando is gestig; ons vroue het hard gewerk. Ons het slegs ’n amptelike vergadering op 15 Oktober 1901 gehou. Dit was te gevaarlik om daarna weer een te hou. Ons was bobaasspioene.
Ma Maria is op 7 Desember 1917 oorlede. Sy was lief vir musiek. Daardie dag het ek visioene gesien. Ek en Louis het sewe kinders groot gemaak. Louis is op 23 Junie 1939 in ’n ongeluk by die huis oorlede. Die 25 jaar voordat ek ook my kop vir altyd neergelê het, was goed. Ek was in die Kaap, en op 21 Januarie 1964 het ek op die ouderdom van 87 in die ewigheid gaan rus.
Ek is Marisha Hermann; my familie en vriende noem my soms Marish. Ek is ’n Boer. Ek is ’n skrywer. Ek sal briewe in suurlemoensap skryf en notas in die koppe van Barbie-poppe wegsteek. Ek sal ’n rebel wees tydens onderdrukking en ek sal veg en bou vir die toekoms van die Afrikaner.
Johanna Brandt, ons liewe Hansie, ek salueer jou!