Susanna Smit standbeeld
| DeurAfriForum

Susanna Smit – ’n Vrou wie se lig helder brand vir die Afrikanervolk

Maree van den Berg

“En ons gaan kaalvoet oor die draak se rug

Ons sal kaalvoet vir die kakies vlug.”

’n Mens kan nie help om hierdie ikoniese woorde van Appel se liedjie Oor die draak se rug saam te sing wanneer dit oor die radio weergalm nie.

Ek is ’n kranige Drakensberg-stapper, want ek kry kans om ’n lang teug vars lug in te neem. Ek weet wel uit eie ervaring dat die Drakensberg nie sommer vir enigeen is nie. Dit is uitdagend en angswekkend – selfs met al die regte toerusting, behoorlike stapskoene en rantsoene.

‘n Vrou wat ’n uitlating maak soos Susanna Smit, toe sy gesê dat hulle kaalvoet oor die Drakensberge sou trek om van  Britse beheer weg te kom, wys ongelooflike toewyding en vreesloosheid. Dit is hoe ek ons Afrikanervroue leer ken het: Sterk en vreesloos. 

’n Feminis word gedefinieer as ’n voorstander van vroueregte op grond van gelykheid tussen mans en vroue. Feminisme is nie noodwendig ’n negatiewe ding nie, mits daar geldige rede vir die spesifieke optrede is. 

Feminisme ontstaan grotendeels, vanuit my eie ervaring, wanneer vroue voel dat hulle nie op gelyke vlak met mans hanteer word nie en dat hul stemme nie gehoor word nie. Vroue het nog altyd ’n belangrike rol in Suid-Afrika gespeel en Afrikanervroue het nog dwarsdeur ons ryke geskiedenis ’n onontbeerlike rol in veral die huishouding gespeel.

Toe die mans oorlog toe moes gaan om teen die Britte te veg, was dit die vroue wat die plaasbedrywighede aan die gang gehou en kinders grootgemaak het. As die mans nié wou oorlog toe gaan nie, is dit hul vroue wat sterk daarop aangedring het dat die mans moet gaan veg vir die vryheid van hul volk.

Tot vandag toe is ons vroue noodsaaklike rolspelers om te verseker dat ons huishoudings, maatskappye of ‘selfs land optimaal funksioneer. 

Wanneer ‘n vrou standpunt inneem, is daar bitter min wat haar kan keer. Nes Susanna Smit haar standpunt hard en duidelik gestel het, sonder vrees en sonder om te huiwer, wil ek vandag sterk standpunt inneem om ons sterk vroue tydens Vrouemaand te herdenk en te vier.

Mag ons nog tot in die einde van dae geseën word met sterk, vreeslose vroue wat die wêreld laat draai!