Geloftekerk en VTM
| DeurAfriForum

Suid-Afrika, my land van melk en heuning

Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.

Suid-Afrika is my land van melk en heuning – ’n land wat ryk is aan minerale, fauna en flora, pragtige landskappe en aangename mense. Daar is so baie waarvoor ons die Here elke dag kan bedank, meer as wat daar redes is om na ’n ander land te emigreer.

Ons voorouers het nie verniet kaalvoet oor die Drakensberge geloop om hoop te skep, horisonne te verbreed en ’n toekoms vir hulle kinders te voorsien nie. Vandag vier ons ’n hele aantal nasionale dae soos Geloftedag wat al vir 185 jaar elke jaar in verskeie dele van ons land gevier word. Dit is maar net een voorbeeld hoekom Suid-Afrika my land is. Daar is wel ook geskiedkundige monumente, volkspele, musiekfeeste, braaivleisvure en selfs ’n kerkbasaar.

Hierdie monumente vertel die geskiedenis van al die helde en heldinne, konsentrasiekampe, die Slag van Bloedrivier, ons taal Afrikaans en al die Boere-oorloë. Volkspele is ’n plesierige samekoms waar mense bymekaar kom om te sing en dans. “Afrikaners is plesierig” is nie verniet een van die liedjies nie. Godsdiens speel ook ’n belangrike rol. Die voorreg om daagliks in ons eie taal Bybel te kan lees of om by ’n kerkbasaar heerlik te kuier en eg Suid-Afrikaanse kos te eet, is die rede waarom ek nie na groener weivelde sal gaan soek nie.

Ons is mal daaroor om op Suid-Afrikaanse musiek te sokkie of selfs saam met geliefdes ons harte uit te sing in ons taal. Die kunste vorm ook deel daarvan. Ons kan rolprente en opvoerings gaan kyk, boeke lees van vele skrywers en digters in ons taal. Suid-Afrikaners kom bymekaar vir braaivleis en pap, braaibroodjies en boeresport, asook om gesellig saam te kuier.

Ons natuurlewe is ongelooflik. Ons kan spog met unieke inheemse diere en plante. Daar is ’n verskeidenheid van parke waar ons God se skepping kan bewonder en tot die beste van ons vermoë kan bewaar. Die Nasionale Krugerwildtuin is wêreldwyd bekend met sy renosters, leeus en luiperds om maar net ’n paar te noem. Die diere en landskap bring vrede, rustigheid en is beslis die regte plek om naby aan die Here te wees. Ons seelewe is net so asemrowend, en watter land kan sê dat hulle ’n berg het wat so plat is soos ’n tafel – naamlik Tafelberg wat een van die Nuwe Sewe Wonders van die Natuur is. Inheemse blomme wat hier voorkom is die protea en vygie. Toeriste-aantreklikhede soos Namakwaland se blomme, die Karoo, Knysna-woude, KwaZulu-Natal se kus en die Vredefort-koepel sal altyd gewild bly.

Aan die anderkant het ons ook ’n verskeidenheid van boere in die land, wat wissel van skaapboere in die Karoo, melk- en wynboere in die Kaap, gewasboere in die Hoëveld tot wildsboere in die Laeveld. Daar is niks lekkerder as om op ’n plaas te wees en tussen die diere te loop of om te kan sien hoe elke plantjie op die lande opkom nie. Die dankbaarheid van ’n boer wanneer dit begin reën na ’n droë seisoen, roer jou hartsnare.

Suid-Afrika sal ek nie verruil vir ’n ander land nie. Dis lekker om in Afrikaans te kan dink en praat, maar nog lekkerder om in Suid-Afrika te kan bly. Suid-Afrika sal altyd deel van ’n mens se DNS bly waar jy ook al gaan. Jou moedertaal vorm jou menswees, en bepaal hoe jy dink en praat.

My mede-Suid-Afrikaners gee my hoop, ons ondersteun en bou mekaar op, want aan die einde van elke dag het ons net mekaar.

Suid-Afrika – my land, my trots!

Magdeleen Smit (17)

“Ons voorouers het nie verniet kaalvoet oor die Drakensberge geloop om hoop te skep, horisonne te verbreed en ’n toekoms vir hulle kinders te voorsien nie.”