Spore aan die suidpunt
Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.
“Ja, ons hou van stories vertel oor ‘Suid-Afrika se skoonheid’, maar dit loop dieper as dit. Vir my kom dit neer op inherente gewetensbeswaar. Ek dink aan die spore van generasies tevore: lewens opgeoffer, bloed gestort juis dat ek myself vandag ‘Suid-Afrikaner’ kan noem, soos die Bybelse Esther wat moontlik juis vir ’n tyd soos dié op ’n plek soos Suid-Afrika geplaas is, in ’n nasie wat homself verskeur.”
Ek onthou toe ek begin bewus word het van my identiteit as Suid-Afrikaner: veel meer as kyk na ’n kaart, wys na die suidpunt van die Afrika-kontinent en weet my spore lê dáár ; dit was die gevoel in my bors wanneer Ons vir Jou of De La Rey speel, wat ek uiteindelik as trots kon identifiseer.
Van toe af deel ek in die spore van ongeveer 63 miljoen Suid-Afrikaners: spore van onthou en beleef, vriendskap, geloof en dankbaarheid, waar ons rigting kom van Bo (soos gesing in die Afrikanerlied Vorentoe, Suid-Afrika).
In, argumentsonthalwe, die mees diverse land ter wêreld kon ek my Afrikanerherkoms plaas langs dosyne ander – my spore byvoeg langs dié van legendes wat al vier eeue lank deur ons land wandel: Riebeeck-paaie, Hugenote, Trekkers, Boere, wie se spore kaalvoet oor berge loop, wat bid vir beskerming en uitroep dat hulle Afrikaners is. Stories van volkshelde wat veg vir selfregering in brandende velde, wat ’n taal praat, monumente daarvoor oprig, boonop daarin dig ook.
Ek kon my spore volstaan, hierdie trots beleef, en terselfdertyd vertrou dat my medemens dieselfde beleef in sy eie taal en geskiedkundige konteks.
In die 21ste eeu is die konsep van emigrasie beslis nie uitheems nie – waarskynlik was dit ook nie in 17de eeuse Europa nie. Dit is immers hoe ons hier gekom het. Emigrasie is nie ’n aksie beperk tot een ras, kultuur, sosiale stand of tydvak nie. Hoewel hierdie faktore ’n invloed kan hê, is emigrasie primêr ’n saak van veg of vlug.
Hier is die feite: Suid-Afrika is beslis nie waar hy behoort te wees nie, en vir baie lyk die groener weivelde oor die waters meer belowend – ’n toekoms helderder as huise sonder lig wat veroorsaak dat hulle hulle blind staar daarteen dat geen land ter wêreld werklik perfek kan wees nie.
Mense emigreer wel om verskeie redes, maar hoe ons ook al daaraan gewoond geraak het, moet ons besef dat dit nie normaal is vir onderwysers om ontnugter te wees wanneer leerders onthul dat hulle nie oorsee gaan studeer of werk nie. Dit is nie normaal vir nou onherkenbare kleintydmaatjies om te vra of ons eerder in Engels kan gesels omdat hulle nie meer Afrikaans verstaan nie.
My Suid-Afrika is ’n nasie met ’n hardkoppig-trotse gees, wat dit byna laat grens aan lafhartigheid wanneer moderne burgers bewustelik besluit om die wit vlag te hys en te verwag dat ander ons erfenis namens ons heropbou, terwyl hulle veilig oorkant die waters gal braak oor ons mense wat krepeer.
Waar ek staan, in ’n generasie wat nog slegs ons lewens se fondasies gelê het, sal dit vir my veel moeiliker wees om ’n lewe te bou as uitlander in die vreemde, eerder as tussen my eie mense, onder die spreekwoordelike “duiwels wat ek ken”.
Mia Le Roux (18)