clay-banks-LjqARJaJotc-unsplash

Regstellende aksies met behulp van raswette is diskriminerend én oneffektief

deur Corlia Kilian

Daar is verskeie debatte en opinies oor regstellende aksie, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. Die werklike regverdigheid daarvan, die voordele en nadele, sowel as die effektiwiteit word al vir jare bespreek, maar is die feitlike diskriminasie wat saam met regstellende aksie kom werklik geregverdig indien dit oneffektief is en ander minderheidsgroepe benadeel? In die stuk word daar gefokus op die gebruik van raswette as regstellende aksie, sowel as die mislukking daarvan.

Regstellende aksie kan gesien word as ’n poging om gelykheid te bevorder. In dié geval word die standpunt geargumenteer dat die 116 nuwe raswette wat in Suid-Afrika deurgedruk is as ’n metode van regstellende aksie gebruik word. Ingevolge artikel 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika het almal die reg op gelykheid. Artikel 9 bepaal dat daar nie gediskrimineer sal word teen enige persoon op grond van ’n gegewe lys van faktore waarvan ras een daarvan is nie. Die Wet op Gelyke Indiensneming, of die “Employment Equity Act” bepaal wel in artikel 6(2) dat diskriminasie nie onregverdig is wanneer dit regstellende aksie is nie.

Statistiek oor werkloosheid in Suid-Afrika dui aan dat die werkloosheidsyfer sedert 1994 aansienlik gestyg het, wat dit duidelik maak dat die regering se poging tot regstellende aksie nie daarin geslaag het om werkloosheid vir die voorheen benadeelde groepe te verminder nie. Voorbeelde van dié regstellende aksie is byvoorbeeld wetgewing wat werkgewers stilswyend aanmoedig of blatant dwing om eerder lede van die swart gemeenskap aan te stel, ongeag of daar ander persone is wat meer gekwalifiseerd is om die werk te doen. Openbare universiteite vra byvoorbeeld dat persone wat aansoek doen om daar te studeer hul ras moet aandui op die aansoekvorm omdat dit onder andere ’n invloed op die toekenning van beurse het.

Een kant van die weegskaal van gelykheid begin dan swaarder weeg as die ander kant. Daar is ook gevalle waar studente van spesifieke rassegroepe voorkeur kry vir toelating bo ander groepe. Studente van dié rassegroepe wat gebruik maak van die geleentheid wat aan hulle gegee is en dit wil benut, sukkel dikwels om die kritiese betalings vir hul studies vanaf staatsinstellings soos NSFAS te kry.

Dit is teenstrydig met die doel van regstellende aksie. Die poging van die regering om die raswette en ander metodes van regstellende aksie te gebruik om sogenaamde gelykheid te bevorder, het misluk as gevolg van die epidemie van bedrog onder lede van die regering en verskeie staatsinstellings wat hulle eie agenda het en volg.

Ons is al amper 30 jaar onder ANC-bewind en die pogings tot regstellende aksie – soos die raswette – het klaarblyklik geen positiewe effek op die samelewing gehad nie. ANC-kaders bevorder hul eie agendas wat hulle probeer voorhou as regstellende aksie, maar dit stel nie eintlik enigiets reg nie. Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, is van mening dat die regstellende aksie slegs die swart elite ryker maak, terwyl misdaad, korrupsie en onbevoegde bestuur die armes van alle rasse armer maak.

Tans word slegs ’n klein groepie met politieke verbintenisse deur regstellende aksie bevoordeel, terwyl die groter prentjie een van armoede en werkloosheid bly. As die ANC werklik die intensie gehad het om gelykheid en gelyke geleenthede in die land te bevorder, sou hulle fokus op die opbou van die land en sy mense wees en nie op al die verskuilde agendas tot voordeel van die politieke elite nie.

Die diskriminasie wat as produk van regstellende aksie in Suid-Afrika voorkom, is dus nie geregverdig nie en moet ongrondwetlik verklaar word aangesien dit oneffektief is en meer nadelig is as enigiets anders.

Corlia Kilian (Foto: LinkedIn)