Rebellietoer 2017

“Dit was die Afrikaner se donkerste uur toe die bittereinders van die Anglo-Boereoorlog mekaar 12 jaar later die stryd aansê: Aan die een kant die regeringsmagte (Kakies) van premier Louis Botha en Jan Smuts, sy minister van verdediging – aan die ander kant die rebelliekommando’s (Boere) van kommandant-generaals Christiaan de Wet en Christiaan Beyers.

 

Ná ’n paar maande was alles verby. Die einde was bitterder as in 1902. De la Rey en Beyers was dood. De Wet, Kemp, Conroy, Wessels en duisende ander helde uit die Anglo-Boereoorlog was in die tronk. Jopie Fourie is op ’n Sondagoggend, net voor Kersfees, gefusilleer. Manie Maritz het in selfopgelegde ballingskap die wêreld vol geswerf.

 

Hoe gebeur só ’n tragedie? Wie is die skuldiges? Hoe kyk mens 100 jaar later daarna?” Só lui die inleiding van dr. Louis Bothma, ook ons gids vir dié toer, se boek Rebelspoor. Bothma was voorheen ’n pelotonbevelvoerder by 32 Bataljon en ’n dosent in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Hy is tans ’n passievolle historikus en skrywer woonagtig in Bloemfontein.

 

Wat hierdie toer so besonders maak, is dat ons jou uit jou gemaksone gaan neem waar ons op die spore van generaals Jan Kemp en Manie Maritz gedurende die rebellie van 1914/1915 reis. Jy gaan plekke besoek waarheen jy nog nooit was nie, dinge uit jou geskiedenis leer wat jy nie geweet het nie, op klein dorpies waar jy nie eers gedink het daar bly iemand nie met ope arms ontvang word en vreemdelinge gaan vriende word.

 

Om op die spore van die rebelle te toer, is ’n unieke pad. Daarom gaan jy ’n meester word van met die minste klaarkom, tent opslaan en vuurmaak. En die Kalaharisand gaan jou dalk vir ’n ruk ná die toer steeds bybly.

 

Waar daar studente is, is daar natuurlik hope pret. Maak jou reg vir sokkie, cantus, braaivleisparlement en sommer net lekker kuier saam met lekker mense!

 

As jy meer oor jou geskiedenis wil leer en betrokke wil raak by oplossings vir die toekoms moet jy nie hierdie toer misloop nie! Hoe verder jy in die toekoms wil sien, hoe verder moet jy in die verlede terugkyk…

 

Datum: 1–7 Oktober 2017
Koste: R300 (Sluit in: Vervoer, verblyf, meeste etes en cantus.)
Ouderdom: 18–28 jaar
Aansoekproses:

Stap 1:  SMS die woord “Rebelspoor” met jou naam, e-posadres en kampusnaam na 32687 (R1) voor of op 1 September 2017.

Stap 2:  Jy sal ’n vraelys ontvang wat jy moet voltooi en terugstuur aan marike@afriforum.co.za voor of op 4 September 2017. (AfriForum Jeug se takbestuur en -lede sal voorkeur geniet.)

Stap 3: Suksesvolle aansoekers sal op 8 September 2017 in kennis gestel word. (Indien jy geen terugvoer teen hierdie datum ontvang nie, kan jy aanvaar dat jou aansoek onsuksesvol was.)

Stap 4:  Inbetaling