Rassisme – die monster van ons tyd

Politieke organisasies, sogenaamde “transformasie-agente” en die media is baie vinnig om mense wat nie hulle standpunt of siening deel nie te beskuldig van sogenaamde “rassisme”. Maar wat is rassisme? Rassisme het ʼn monster in ons samelewing geword – ʼn buigsame monster wat van vorm kan verander soos wat belangegroepe daarby baat vind. 

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal omskryf “rassisme” as die “Veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras – ʼn denkrigting wat aanneem dat ʼn besondere ras meerderwaardig is en die reg het om ander rasse te oorheers.” Die Oxford Woordeboek beskryf rassisme as die teorie dat menslike vermoëns bepaal word deur ras. Dit is duidelik dat hierdie definisies verskil van die betekenis wat tans in Suid-Afrika aan rassisme gegee word. ʼn Goeie voorbeeld is die hantering van rassisme by universiteite in Suid-Afrika.

Die tog te bekende “black face”-skandaal by Tukkies was weke lank op almal se lippe nadat ʼn foto van twee damestudente wat hulle gesigte swart geverf en soos huiswerkers aangetrek het vir ʼn partytjie, die koerante vol was. Die Universiteit van Pretoria (UP) het tugstappe geneem oor hierdie insident wat by ʼn private funksie plaasgevind het. Tog was dit duidelik dat die insident uit verband geruk is deur belangegroepe wat hulle eie agendas dryf.

UP het egter gefaal om dissiplinêre stappe eenvormig toe te pas teen alle rassisme-verwante insidente, soos toe wit studente van Huis Taaibos, ʼn UP-koshuis, deur twee ongeïdentifiseerde swart studente van Kollegetehuis, ook ʼn UP-koshuis, met rassistiese uitlatings en dreigemente toegesnou is by die hekke van Huis Taaibos. Die een swart student het wit studente gevloek en geskree dat hy wit mense haat en dat hy al die wit mense wil doodmaak. Die verbale aanval het Taaibos-studente diep ontstel, maar UP het dit geïgnoreer.

Dit is nie die eerste keer wat rassisme teenoor wit studente nie ernstig opgeneem word deur ʼn universiteit nie. ʼn Paar weke vantevore is ʼn haatspraakpamflet met ʼn Afrika-bevrydingsembleem soortgelyk aan dié van SASCO in die badkamers by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) versprei met die woorde “Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans”, hierdie insident is ook deur NWU geïgnoreer. NWU het nie teen die skuldiges opgetree nie.

Geen van die bogenoemde voorvalle is met die nodige erns deur die onderskeie universiteite hanteer nie en tot nou is daar nog geen dissiplinêre stappe geneem nie. Ons sal eers werklik ʼn Suid-Afrika gebaseer op gelykheid, vryheid en regverdigheid hê as ongelyke behandeling soos in hierdie gevalle aangespreek word. Vir nou bly rassisme die onbekende monster onder jou bed wat van vorm verander op grond van jou ras en die agenda wat jy probeer dryf.

Deur Monique du Randt, Tukkies studenteraad sekretaris en AfriForum Jeug Nasionale bestuurslid