Is Prof Jansen Kovsies se ondergang?

Die huidige situasie op die Kovsie-kampus lyk sleg. Raadslede bedank as gevolg van hul wantroue oor besluite deur topbestuur en word afgedank sonder voldoende redes. Studente word geboelie deur besluite wat namens hulle gemaak word, hulle tradisies en kultuur word bedreig, onskuldige studente word beskuldig van rassisme en geskors sonder ʼn dissiplinêre verhoor of ’n kans om hul kant van die saak te verduidelik.

Prof. Jonathan Jansen is besig om deur rasgedrewe en onverantwoordelike besluite die mag wat aan hom toevertrou is te misbruik. Hoe kan ’n ouer vandag hulle kind met vrymoedigheid na ’n universiteit stuur waar studente se beste belange nie op die hart gedra word nie of waar die rektor nie die insig het om tussen reg en verkeerd te onderskei nie, en dan oningeligte besluite maak wat ʼn jaar van ʼn student se studies kos, wat sy ouers regskostes uit die sak jaag.

Rektor Jansen het die student in die media halfhartig om verskoning gevra. Hy’t nie die vrymoedigheid gehad om die student en hul ouers te besoek om persoonlik vir hulle om verskoning te vra nie, nadat hy hulle in die publiek en media verneder het.

Charl Blom en Cobus Muller is aangekla vir roekelose bestuur, crimen injuria, poging tot moord en aanranding na ’n voorval op kampus vroeër vanjaar waarin Muzi Gwebu hulle van hierdie oortredings beskuldig het. Muller het die volgende dag na prof. Jansen gegaan om vir hom hulle kant van die voorval te vertel, maar is deur sekuriteit van kampus af begelei. Blom, wat op daardie stadium toets geskryf het, is op aandrang van prof. Jansen onmiddellik uit die lokaal verwyder en saam met Muller van kampus af begelei.

Blom en Muller is later in die hof onskuldig bevind op alle aanklagtes teen hulle. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het vroeër ook bevind dat rassisme nie ter sprake was nie. Blom en Muller is egter geskors sonder dat hulle weergawe ooit gehoor is. Hoe kan dit regverdig wees? Hoe kan ’n rektor van ’n universiteit sulke onverantwoordelike besluite neem? Hoe kan nie een van sy bestuurspan sy besluit bevraagteken soos baie van ons studente het nie? Het prof. Jansen dit gedoen om sekere politiese agendas te dryf of was dit ’n rasgedrewe besluit?

Nou word selfs ons koshuistradisies afgewater. Koshuisleiers word gedwing om by die besluite in te val sonder dat belanghebbendes of koshuis-HK’s se insette gevra is. Vroeër vanjaar het Rudi Buys, studentedekaan van die UVS, koshuise begin aanvat oor hul tradisies soos Armentum se kieries, die tiekie van Vishuis, JBM se oorpakke en naam wat glo verwyder moet word omdat dit te veel met die apartheid-era te doen het. Enigiemand wat iets van hulle geskiedenis weet, sal sien dat Generaal JBM Hertzog niks met die apartheid-era te doen gehad het nie.

Na ʼn artikel wat in die vorige Kampus Kreet verskyn het, is ek deur prof. Jansen ingeroep, waar ons begin het met ʼn “baie liefdevolle gesprek” soos hy dit sal noem. Tydens die gesprek het dit duidelik geword dat hy eintlik ’n soort boelie-taktiek gebruik om my te waarsku. “Willie as jy aangaan soos jy nou aangaan is daar nie ’n baie goeie toekoms wat vir jou voorlê nie, so vat nou maar al die raad wat ek vandag vir jou gegee het en doen daarmee wat jy wil,” het prof. Jansen vir my gesê.

In ’n land waar vryheid van spraak jou reg is en ’n universiteit ’n plek moet wees waar studente aangemoedig moet word om vrylik te skryf en redeneer oor dié dinge waarin hulle glo, word ek gewaarsku om nie so aan te gaan nie omdat dit nie goed vir my toekoms sal wees nie, deur die een persoon wat veronderstel is om hierdie vryhede te koester en te bevorder.

Die feit dat raadslede sonder rede afgedank word, versterk my afleidings oor prof. Jansen. Hy wil studente en sy bestuur met ʼn ystervuis beheer, en wanneer hulle nie na sy pype dans nie, word daar dan van hulle ontslae geraak? Dan is daar raadslede soos Paul Colditz, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) wat bedank het oor sekere besluite van prof. Jansen.

Is die koeël deur die kerk, of sal ons ’n rektor kan kry wat prof. Jansen kan vervang om uit hierdie storm van onregmatigheid en ongeregtigheid te vlug? Dit is die gedagtes van baie studente, raadslede en alumni.

 

Wat sê die mense op en om die Kovsie-kampus?

“Hy moet asseblief nou so gou as moontlik die “eerbare” pad loop en dadelik bedank omdat net hy kan skors. Baie sal hom dan salueer. Tot siens, prof. Jansen.” – Louw Horn

“Die hantering van die Reitz-debakel, die skorsing van prof. Driekie Hay-Swemmer, die JBM-kwessie, asook Charl Blom en Cobus Muller se skorsing, getuig van vooroordeel. Wie dink Jansen is hy om uitsprake te maak wat kwetsend en ongegrond is?” – Louw Horn

“Die mense is juis bereid om op te staan en te praat, omdat hulle die beste vir die UV wil hê. Die meeste van hulle kom al jare saam met die UV en was op verskeie vlakke by die universiteit betrokke. Niemand wil sien hoe Kovsies afgebreek en verneder word nie.” –  Johan Grobbelaar

“ONS mag nooit bang wees om die wêreld te skud wanneer ons dit aanvat wat verkeerd is nie. Al staan jy agterna alleen. Word jou voete onder jou uitgeruk. Vra my,” – Driekie Hay, gewese viserektor aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), wat geskors is.

“Prof. Jonathan Jansen het nou al soveel kere die pot misgesit in sy optrede teenoor studente en personeel dat hy nie langer verskoon kan word nie.” – Johan Botha, Oud-Bemarker: Kovsie-Alumni Trust

“Dit is in sy eie en Kovsies se belang dat prof. Jansen sy posisie heroorweeg.” – Johan Botha, Oud-Bemarker: Kovsie-Alumni Trust

“Alles gaan verander! Hierdie is nie ‘n gesprek nie, en ek gaan nie baie vrae neem nie” – Rudi Buys, Oud-Studente dekaan Kovsies.

“Ek kon nie ‘n oomblik langer daar sit en die dinge aanskou nie. Goeie mense, soos Driekie Hay se menswaardigheid word geskend. Oor ‘n jaar of tien kom die goed (onreëlmatighede van die UV-bestuur) op lappe – die waarheid seëvier tog altyd – en dan sal mense sê jy’s die uitvoerende hoof van Fedsas ( die Federasie van Beheerligame van Suid-Afrika Skole), die Konvokasie het jou verkies, jy was deel van die raad, hoe kon jy dit toelaat? Die universiteit ly in die proses groot skade. Ons kan nie so aangaan nie – nou distansieer ek myself.” – Paul Colditz

Deur Willie de Waal, AfriForum Jeug se takvoorsitter op Kovsies