Open Stellenbosch-propaganda
Geagte Stellenbosch-student,
Die onlangse video genaamd Luister wat deur die groep Open Stellenbosch op sosiale media gelaai is, is niks anders as goedkoop propaganda nie. Ek weet sekere lede van die publiek, en veral lede van Open Stellenbosch, gaan nie met my stelling saamstem nie, maar gee my die geleentheid om dit te verduidelik.
Propaganda is deur kenners, beskryf as die proses waardeur die kommunikeerder ʼn seleksie feite buite konteks projekteer as die algehele werklikheid en hierdeur die nasionale agenda bepaal. Uit dié beskrywing is dit duidelik dat die klein groepie ekstremistiese studente aan die Universiteit van Stellenbosch die rol en implementering van goedkoop propaganda tog alte goed verstaan.
Eerstens moet elke kyker van die video in ag neem dat dit saamgestel is deur 32 studente en een dosent. Dit is baie gevaarlik en maklik om die aanname te maak dat die video die gevoel van al die studente en personeel aan die Universiteit van Stellenbosch weerspieël. 33 lede van die Universiteit van Stellenbosch vanuit ʼn studentegemeenskap van oor die 15 000 is sekerlik nie die stem van die studente nie. Op die video word daar na talle voorbeelde van diskriminasie verwys. Tog vreemd dat hierdie bewerings van geen feitelike basis in die vorm van saaknommers, videomateriaal of foto’s voorsien word nie. Die inligting wat in die video gegee word, is so vaag dat bykans niks daarvan opgevolg kan word om die korrektheid daarvan te bevestig nie.
Die slagoffers voer onder meer aan dat sekuriteit opdaag as die studentegroep ʼn optog hou en dat die sekuriteit dus rassisties is. Tog gerieflik om die feit oor te sien dat Open Stellenbosch tot nou toe nog nooit toestemming verkry het om ʼn wettige optog te hou nie. Optogte deur Open Stellenbosch is gekenmerk deur ontwrigting van klasse en loopbaandae. Enige billike, gematigde persoon sal tog sekerlik verwag dat sekuriteit die groep se gedrag moet dophou. Dit is standaardpraktyk dat kampussekuriteit toesig hou wanneer ʼn groep studente betoog, ongeag wie dit is of wat die rede vir die byeenkoms is. Die rede vir die seleksie van feite deur Open Stellenbosch is dus duidelik.
“Open Stellenbosch stel nie belang in samesprekings nie,” is die boodskap wat duidelik deur die groep se leiers uitgebeeld word. Die Bestuur van die Universiteit van Stellenbosch het die groep se leierskap telkemale na samesprekings genooi om die probleem te probeer oplos. Die uitnodigings is egter elke keer van die hand gewys. Die groep beweer dat die universiteit nie aan hul eise wil voldoen nie, maar uit hul optrede is dit duidelik dat Open Stellenbosch nie belangstel in samesprekings om ʼn middeweg te vind nie. Hoewel Open Stellenbosch herhaaldelik duidelik laat blyk het dat hulle nie daarin belangstel om oor oplossings te praat nie, word die indruk egter in die video geskep dat Open Stellenbosch graag wil praat, maar dat niemand met hulle wil praat nie. Dit is blatant oneerlik.
Aanvanklik het Open Stellenbosch hulle veldtog verdoesel as ongelukkigheid oor taalkwessies. Uit die videomateriaal is dit egter duidelik dat taal nie die groep se werklike probleem is nie, maar wel ras. Die eensydige video met sy hoogs dramatiese agtergrondmusiek bevat geen onderhoud met enigiemand wat nie ʼn lid van Open Stellenbosch is nie; geen ander stem verleen balans aan die video nie.
Dit is jammer dat geen poging aangewend is om ʼn meer gebalanseerde benadering te volg nie. Ook is daar geen onderhoude met die rektor, die Bestuur van die Universiteit van Stellenbosch, die SR of enige ander rolspeler gevoer nie. Die enigste persone wat toegelaat is om aan die vervaardiging van die video deel te neem, is mense wat Open Stellenbosch se ideologie van radikale, rasgedrewe transformasie ondersteun.
Met hierdie brief wil die studente se verhale geensins verkleineer word nie. Die bewerings wat in die video gemaak word, is ernstig en verdien om verder ondersoek te word. Ek kan glo dat wat sommige studente vertel, werklik gebeur het, maar om ʼn paar studente se hartseer verhale buite konteks te gebruik om ʼn groep se agenda te bevorder, is ʼn goedkoop poging om simpatie vir ʼn rasgedrewe veldtog te bekom.
Open Stellenbosch is geensins die bevryders wat hulle voorgee om te wees nie. Ek doen ʼn beroep op alle studente/lesers van hierdie brief om in die vervolg krities na soortgelyke video’s te kyk en die eenvoudige vraag te vra: “Is dit feitelik korrek of is dit slegs ʼn seleksie feite, buite konteks, wat geprojekteer word as die algehele werklikheid in ʼn poging om die nasionale agenda te bepaal?”
Deur Henk Maree, Nasionale voorsitter van AfriForum Jeug