Nonnie-de-la-Rey
| DeurAfriForum

Nonnie de la Rey se lewe as voorbeeld vir Afrikanervroue vandag

Cara Tomlinson

“Hou julle oë altyd op die Here gerig. As ons mekaar nie weer op die aarde sien nie, sien ons mekaar in die Hemel.” Dit was Nonnie de la Rey se woorde aan haar man en seuns toe sy hulle ná ’n ontmoeting tydens die Anglo-Boereoorlog weer moes groet.

Nonnie de la Rey was die vrou van general Koos de la Rey, wat ook het as die Leeu van die Wes-Transvaal bekend gestaan het. Sy was ’n beginselvaste, gelowige en heldhaftige vrou wat tot vandag nog as ’n volksmoeder aan ons Afrikanervolk bekend is. Nonnie se innerlike krag, deursettingsvermoë en diepe geloof kom in haar dagboeke sterk na vore. Nonnie het haarself nie as minderwaardig geag nie en sy kon sterk staan in moeilike tye. Nonnie se verhaal van dapperheid, ondersteuning, vertroosting, die versorging van haar gesin, deursettingsvermoë en blindelingse vertroue op God Drie-Enig laat ’n navolgingswaardige voorbeeld vir Afrikanervroue vandag.

Nadat generaal de la Rey en sy twee oudste seuns in 1899 by die oorlog aangesluit het, het Nonnie en die jonger ses kinders alleen op die plaas agtergebly. Hier het Nonnie die fort gehou totdat die Britte hul plaashuis afgebrand, die plaas vernietig en die vee gesteel het. Nonnie het ʼn paar oorblywende osse voor die wa ingespan en met haar swerftog begin, terwyl sy haar kinders opgevoed en laat leef het terwyl sy rondgetrek het. Op dié wyse kon hulle uit die konsentrasiekampe bly en haar man en boerekommando’s ondersteun, moedeloses moed inpraat, kos gee en wonde verbind. Nonnie het sterk gestaan teen die uitdagings van hul lewe in die veld; sy het baie krag in haarself gehad en het altyd aan oplossings vir die krisisse en probleme gedink.

Nonnie was ’n vrou wat uitdagings, ontberings en hartseer geken het; sy was nie bang vir manswerk nie en sy was vreesloos om op te staan vir dit waarin sy glo. Mag ons Afrikannervroue weer ons godgegewe rol as vrou van ons huise opneem en uitleef, ons mans ondersteun, ons gesinne versorg en ons gemeenskap op die hart dra. Mag ons ook ons vertroue blindelings in God plaas, deursettingsvermoë hê en uitdagings en krisisse hanteer met ’n oplossing voor oë. Mag ons die liefde en ondersteuning aan ons mans bied sodat hulle hul roeping en rol suksesvol kan vervul.