’n Feniks uit die as- die invloed van die Anglo-Boereoorlog op die Afrikaner
Jandré du Plessis se meningstuk was derde in AfriForum Jeug se meningstukkompetisie, Tel op jou pen en wen!
Selfs honderd-drie-en-twintig-jaar later hou geen historiese gebeurtenis die Afrikaner se gedagtes, belangstelling, nasietrots en heimwee só vas soos die Anglo-Boereoorlog nie. Ons word groot met verhale oor bittereinders, De Wet se militêre genialiteit, dood in konsentrasiekampe en ’n verskroeide aarde … Uit die as van die Tweede Vryheidsoorlog, Driejarige Oorlog of Anglo-Boereoorlog het die Afrikaner soos ’n feniks herrys. Ons klein volkie het homself op ekonomiese, politieke en kulture gebied opgehef en bemagtig sodat ons wêreldleiers in elke denkbare veld kon word. Tog lê die letsels steeds diep en word die prys van teenstand teenoor ’n wêreldryk steeds daagliks betaal.
Mevrou Maria Fischer van die Merebank-konsentrasiekamp skryf ná die Vrede van Vereeniging: “Ek was platgeslaan. Ons is gedoem tot ’n bestaan sonder hoop, sonder vertroue, ’n onmoontlike toekoms.” Daar was vele wat Mevrou Fischer se sentiment gedeel het en die trane het gerol oor die wange van bittereinders wat voorheen vir geen koeël bang was nie.
Dié wat die kampe oorleef het, ’n handjievol bittereinders, penkoppe en bannelinge het na plase teruggekeer waarop geen weiding of lewende dier meer was nie, en slegs verwoeste opstalle. Die Afrikaner het daar weer uit die as begin bou. Tydelike hartbeeshuisies en skuilings is gebou uit oorblywende sinkplate en bourommel. Die landbougerigte Afrikaners was gedeeltelik suksesvol om weer ’n bestaan te voer, want sommiges kon mettertyd hul boerdery opnuut van die grond af kry. Daar was egter baie wat eenvoudig nie die mas kon opkom nie, wat die era van die armblankevraagstuk ingelei het. Die boere wat weens erge droogte en die Groot Depressie nie hul boerdery opnuut van die grond af kon kry nie, het na die stede gemigreer om in myne en fabrieke in haglike omstandighede teen lae vergoeding te werk om te oorleef. Hulle het in pondokke en saamgeflanste krotte gewoon. Die ekonomiese toestande wat die Afrikaner as nadraai van die Anglo-Boereoorlog moes trotseer, het gelei tot ’n omvangryke ekonomiese heropbouprogram wat oor amper 30 jaar gestrek het. Die Helpmekaarbeweging is op die been gebring; Santam, Sanlam en KWV is in 1918 gestig. Later het die Afrikaanse Handelsinstituut, Federale Volksbeleggings en die Reddingsdaadbond in 1940 die lig gesien. Daar is veral klem gelê op onderwys, vaardigheidsopleiding en broederskap. Dit bly steeds van die min gevalle in die geskiedenis waar ’n hele volk homself sonder eksterne ondersteuning kon ophef. Teen die sestiger- en sewentigerjare van die twintigste eeu was Afrikanerarmoede feitlik uitgewis.
Op politieke gebied het die Afrikaner ná die oorlog ook nie die gras onder sy voete laat groei nie. In 1904is die Het Volk-party in die Transvaalkolonie gestig onder leierskap van generaal Louis Botha. Die Orangia Unie-party in die Oranjerivierkolonie het gevolg in 1906. In 1906–1907 is selfregering aan die vier kolonies verskaf en in die Transvaal- en Oranjerivierkolonie het die Afrikaner oorweldigend gewen. Net vier jaar ná die einde van die Anglo-Boereoorlog kon die Afrikaner homself weer gedeeltelik regeer. Met uniewording in 1910 het Suid-Afrika vir die eerste keer ’n staatkundige begrip geword, met generaal Louis Botha as eerste minister. Die politieke onafhanklikheid van die Afrikaner het gevorder in 1931 met die Statuut van Westminster, waardeur Suid-Afrika ‘n soort grondwetlike monargie regering verkry het, met die Britse kroon wat deur ‘n goewerneur-generaal verteenwoordig is. In die politieke arena ná die Anglo-Boereoorlog en deur die twee wêreldoorloë heen was daar verskeie keer tweespalt oor die toekoms in Afrikanergeledere. Tog was dit meningsverskille tussen Afrikanerbroers van dieselfde heldhaftige volk. Hierdie klein volkie het die oorlog verloor, maar die vrede gewen.
’n Feniks uit die as- die invloed van die Anglo-Boereoorlog op die Afrikaner
Jandré du Plessis is die algemene bestuurder vir die nuut gestigte Pro Patria Museum MSW, wat hul beywer vir die geskiedkundige rol wat die Suid-Afrikaanse Veiligheidsmagte gespeel het in die skep van ’n vreedsame Suider-Afrika. Hy studeer regte by Akademia.
Instagram-handvatsel: jandre_h_duplessis