Maria Margaretha Koopmans-de Wet – die kampvegter en kultuurleier
Veniece Janse van Rensburg
Maria Margaretha Koopmans-De Wet (1834–1906) was ’n Anglo-Boereoorlog spioen en leidinggewende organiseerder van die massa protesvergaderings teen die Anglo-Boereoorlog. Marie (soos wat sy bekendgestaan het) was ’n uitgesproke aktivis teen die verskroeideaardebeleid, konsentrasiekampe en die ballingskap van die Boerekrygsgevangenes wat deel van die Britse oorlogvoering was. Sy was ook bekend vir haar veldtogte ten gunste van die behoud van die Afrikanertaal en -kultuur toe Suid-Afrika deur die Britte geregeer is.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het Marie gewerk om die omstandighede van die Boerevroue en -kinders te verbeter. Sy het byvoorbeeld lewensmiddele ingesamel en aan die vroue en kinders in die konsentrasiekampe versprei. Sy het ook petisies teen die omstandighede in die konsentrasiekampe van stapel gestuur en groot protesvergaderings in die Kaapkolonie georganiseer. Sy is later selfs as ’n Kaapse rebel uitgekryt en soms na verwys as die “queen of the rebel ladies”.
Marie was ‘n gekultiveerde, wel belese en hoogs intelligente vrou met ’n strewe om geregtigheid vir die Afrikaner te laat geskied. Haar netwerkvermoë het tot vele se voordeel gestrek. Marie het gereeld gekorrespondeer met vooraanstaande Britte wat pro-Boer was, soos William Stedd. Marie het selfs koningin Victoria se aandag oor die omstandighede van die Anglo-Boereoorlog getrek – dit het tot haar huisarres gelei. Haar woning te Strandstraat 23 is byna weekliks deur militêre polisie deursoek aan enige spioenwerk te voorkom. Met die afkondiging van krygswet in Kaapstad – dit is wanneer die bestaande grondwet en alle ander wetgewing tydelik opgeskort word en die land dan deur die weermag geregeer word – het Marie se huisarres haar netwerkvermoë tot die uiterste getoets – en sy het met vlieënde vaandels geslaag.
Toe die militêre polisie op ’n dag onverwags opdaag om Marie se woning te deursoek, was sy juis by haar skryfburo met spioenasiebriewe besig. Hoewel Marie dit nooit bevestig het nie, was sy een van die hooforganiseerders van ’n Boerevrouspioenasienetwerk met die bynaam die Kappiekommando. Dié spioenasienetwerk het in Pretoria verslag gedoen aan die Boere se geheime diens, die Spesiale Diensten der Zuid-Afrikaansche Republiek, oor gebeure in die omliggende area. Toe die militêre polisie opdaag, het Maria haar naaldwerkmandjie, wat ook op die tafel was, geneem en aan die speurders gegee – met die sarkastiese opmerking dat hulle dit nog nie deursoek het nie. Die speurders was toe so verleë dat hulle die inkriminerende briewe voor haar skoon misgekyk het. Die Afrikaner se humorsin vorm weer ’n integrale deel van die geskiedenis!
Marie het bygedra tot die ommeswaai van vele aktuele sake en die verbetering van onverdraaglike omstandighede van die Boere, of die fnuik van bose planne deur die Britte.
Die neoklassieke Koopmans-De Wet-woning in Strandstraat 23, Kaapstad is ’n nasionale gedenkwaardigheid.