thomas-bennie-B21WLsX6a5c-unsplash
| DeurAfriForum

Hoekom gaan ek in Suid-Afrika bly?

Hierdie skrywe vorm deel van AfriForum Jeug se 2023 meningstukkompetisie. Dit is dus nie deur ʼn verteenwoordiger van AfriForum geskryf nie en die mening van die skrywer weerspieël nie noodwendig AfriForum se standpunte nie.

Ek, ’n trotse Afrikaner, het baie redes vir die bostaande vraag. Het jy?

In hierdie skryfstuk is my mening omtrent ten volle saamgevat in sewe punte, omdat sewe ’n getal is wat telkens in die Bybel gebruik word. Maar voor ek my appel met jou skil of my biltong met jou kerf, vra ek jou, waar anders? Waar het God die Afrikaners geplaas? Waar groei jou grond soos my volk se grond, waar reik jou velde soos my volk se velde? Waar is gebed en vertroue, geloof en hoop, so volop soos rondom ’n Afrikaner-etenstafel? Waar anders?

Ek glo God het die Afrikanervolk in Suid-Afrika geplaas. Ek glo God het vir die Afrikaner geseën met die onbewerkte grond, wat deur my volk se geloof, voorsiening en seëning bied. Vir my kinders se toekoms in Suid-Afrika sal ek veg en as dit die Here se wil is die struikel verduur, want die stryd is groot. Ek sal hier bly, saam met my Afrikanervolk, so lank as wat God bepaal.

Eerstens dra Suid-Afrika my volk se trane in sy velde, my volk se bloed in sy grond, my volk se hoop in sy sonsondergang. Met elke gebed, waar ’n Afrikaner op hulle knieë staan, daar sit God. Ons beloofde grond, ons stryd. Ek wil deel vorm daarvan. Die bou, die seer, die veg en die trots, alles tot eer van God en vir die opkomende generasie van die Afrikanervolk.

Tweedens. Wanneer ek myself in die bosveld bevind kan ek getuig, met die grond wat deur my vingers syg, dat ek my kinders hier wil vestig, in die Afrikanerkultuur. Vir my kinders sal die stories vertel word van die Groot Trek, die boereoorloë, die konsentrasiekampe, die Recces, die plaasmoorde, die koeksister en die melktert, die Afrikanerman se karakter en die Afrikanervrou se liefde. Met ’n geskiedenis so ryk aan kultuur, aan seer, hoekom wil ek Suid-Afrika verlaat vir gras wat nie my volk se gras is nie? Groener gras op onvrugbare grond is nie die antwoord nie.

Derdens. Ons voorouers was “gewone mense, wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het.” Die Afrikanervolk is uniek. Uniek in die rol van die vrou en uniek in die opoffering van beide die vroue en die kinders, terwyl die man se stryd gedurig plaasgevind het.

Vierdens. Waarom, as God ons beveel om nie aardse besittings bymekaar te maak nie, gaan smeek ons vir gras elders om al ons besittings op te pak? My hemelse tas is gepak. Met die hart van die Afrikaner, die seer van die stryd, die deursetting van die regverdige en die konstante vertroue in God, op ons grond, ons gras, Suid-Afrika.

Vyfde. President Brandt het gesê, “Alles sal regkom, elkeen moet net sy deel doen.” President Paul Kruger het gesê, neem uit die verlede wat goed en skoon is, en bou jou ideale daarop vir ’n beter toekoms. Vader Cestal het gesê, “’n Volk red homself.” Ek wil deel hê aan van die redding van my volk.

Sesde. Geen volk kan werk, kook, geselligheid koester, braai, veg, bid en lag soos die Afrikanervolk nie. Geen volk is perfek nie en ’n perfekte volk soek ek nie. Ek wil leer by die Afrikaners voor my. My voorouers, die helde van die Beweging, die jeugdige Afrikanervolk wat opstaan. Van die tannie en oom wil ek stories opskryf, gebede leer, moerkoffie drink en sonsondergange erken as God se kunswerk.

My sewende rede, soos herhaal in die boek van Genesis, is die dag van rus. Vir elke ses dae van bou en veg, rus ons volk. Die rus gee my hoop. Hoop vir die Afrikanervolk se toekoms, hoop vir my toekoms en my kinders se toekoms. Orania, die Afrikanerdorp na stad, gee my hoop. Wat gee jou hoop?

Ek, ’n trotse Afrikaner, koester die sewe redes en daarom gaan ek in Suid-Afrika bly. Gaan jy?

Veniece Janse van Rensburg (21)

“Hoekom gaan ek in Suid-Afrika bly? Ek, ’n trotse Afrikaner, het baie redes vir die bostaande vraag. Het jy?”