IMG_20211002_160554
| DeurAfriForum

Hoekom bly Afrikaners nog in Suid-Afrika?

Mense kan dit eenvoudig nie verstaan nie en vra dikwels: “Hoekom bly julle in Suid-Afrika?” Hulle is dan nog meer geskok as hulle vra: “Wat! Julle sien jul toekoms in Suid-Afrika?”

Die antwoord is ja. Net in Suid-Afrika. En ek, ’n trotse Afrikaner, het baie redes.

Ek het hierdie vraag op Twitter gestel om ’n omvattende antwoord te kry, met insette van baie Afrikaners. Ek begin met hierdie aanhaling: “Ons is Afrikaners. Ons gooi nie sommer tou op nie. Ons is om ’n rede in Suid-Afrika geplant.”

In hierdie aanhaling is omtrent alles saamgevat. Maar hier is nóg aanhalings en menings oor hoekom Afrikaners verkies om in Suid-Afrika te bly:

In die eerste en belangrikste plek glo Afrikaners dat God ons om ’n rede in Suid-Afrika geplant het. Dit is sy wil dat ons hier moet wees. Die Afrikaner se geskiedenis het in 1652 met ’n gebed begin, toe die eerste Nederlanders aan die Kaap voet aan wal gesit het. Vanuit die staanspoor was dit geloof in God wat die heroïese geskiedenis van die Afrikaner gedefinieer het. Soos sommige mense geantwoord het – die Afrikanervolk het gegroei uit nasies wat oor hulle geloof vervolg is, en daarom het die Afrikaner gegroei uit ’n begeerte om God te aanbid. Iemand anders verklaar: “As ek nou padgee, beteken dit dat God oor die jare vir so baie mense gelieg het.”

Uit die volgende standpunte sal dit blyk dat hierdie geloof aan feitlik elke rede ten grondslag lê.

Tweedens, Afrikaners hoort in Suid-Afrika. Ons mense rus in hierdie land. Ons voorvaders is hier begrawe ná baie jare van stryd om Suid-Afrika tot ’n Eerstewêreldland uit te bou. Iemand sê dat ʼn besoek aan Spioenkop hom so verbind het aan Suid-Afrika dat hy nooit wil emigreer nie, want “as daai mense soveel jare gelede so harde stryd gevoer het, waarin hulle heelhartig geglo het, hoekom sal ek vandag vir ’n paar uitdagings vlug?”

Ons is hier gebore. Ook ons ouers is hier gebore, en ons grootouers en geslagte voor hulle, wat bloed gesweet het om ’n toekoms vir ons hier in Suid-Afrika te bou.

Party sê: “My familie is al 10 geslagte lank in Suid-Afrika. Ek pas nie in Europa of enige ander land nie.” Dit is reg. Suid-Afrika is ons land.

Derdens, ons mense is hier. Ons wil omring word deur ons kulturele waardes wat in ons Christelike geloof gegrondves is. ’n Dame het gesê dit is deel van die Afrikanerkultuur om elke dag aan Christus die Almagtige herinner te word. Afgesien daarvan is Afrikaners, en ek haal aan, “’n spesie op ons eie!” Ons wil nie afgesonderde buitelanders op ’n ander vasteland wees nie. Nee, ons wil ons pragtige taal praat – Afrikaans. Ons wil ons ryke erfenis eer. Ons wil ons eiesoortige tradisies uitleef. Ons wil ons hartskos berei en eet, soos braaivleis. En iemand het selfs gesê hy het Afrikanervroue nodig, wat die dapperste vroue op aarde is.

In die vierde plek, ons is lief vir ons pragtige land. Ek haal aan: “Suid-Afrika is deel van ons en ons blom in die Afrika-son.” Ja, ons kan liries raak oor ons majestueuse berge, die uitgestrekte ruimtes van die Karoo, die sondeurdrenkte strande, die bosveld en die sandduine van die Kalahari. Omdat ons so lief is vir ons land, het iemand selfs sarkasties gesê: “Iemand moet die SASSA-kantoor finansier.” SASSA is die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, wat maatskaplike toelaes aan 46% van die Suid-Afrikaanse bevolking betaal, terwyl net 8% van die bevolking inkomstebelasting betaal. As jy eenvoudige somme kan maak, sal jy die gevare hiervan besef.

Laastens, ons sien ons toekoms in Suid-Afrika. Hier is ’n paar antwoorde:

  • “Ons wil aanhou bou aan ’n toekoms vir ons kinders, soos ons ouers vir ons gebou het.”
  • “Dis ons plig om saam te staan en dinge self te doen. Nie almal het die middele om pad te gee nie, ons moet eerder saam bou.”
  • “Al het Suid-Afrika oor die afgelope 28 jaar ’n land met rommelstatus geword, het hoop en geloof ons eeue lank gedra.”

Ons wil eenvoudig nie padgee en tevredenheid bied aan die mense met ideologies verwronge denke wat sê ons hoort nie hier nie en moet die see in gejaag word. Ons wil nie hê hulle moet dink dat ons hoegenaamd met hierdie leuens saamstem nie.

Ons is hier. Ons is al 370 jaar lank hier. En ons sal hier bly so lank as wat God bepaal.